André Rieu weer op die groot skerm
Om André Rieu en sy Johann Strauss orkes op die groot skerm te kon sien was 'n ongelooflike voorreg en lekkerte.
SASOLBURG. – Die Etienne Rousseau Teater (ERT) het op Sondag, 26 September hul eerste fliek in samewerking met Nebula Musiek en Produksies aangebied.
Dit was ‘n digitale skouspel van André Rieu en sy orkes se Together Again – Join the celebration vertoning.
Die produksie is spesiaal vir die groot skerm vervaardig en dit was ongelooflik om dit in die teater te kon sien en ervaar.
Die ERT se klank is van hoogstaande gehalte en dit het gevoel asof alles lewendig voor jou afspeel.
Almal wat die vertoning bygewoon het was dit eens dat dit ‘n besonderse ervaring was.
Die kommentaar op ERT se Facebookblad het dit onderskraag.
Marietta van Wyk het gesê: “Was so lekker – klank en beeld was uitstekend.”
Rina Bosch het bygevoeg: “Ons was daar. Lekker geluister en amper saam gesing.”
Estelle Boers het dit beaam met: “Was wonderlik gewees!!!”
Indien jy die skouspel misgeloop het, het jy nog ‘n kans om dit te beleef.
Wêreldwyd sou die vertoning eenmalig in teaters vertoon word, maar die aandrang was so groot, dat André besluit het om die vertoning vir ‘n tweede maal beskikbaar te stel.
Together Again – Encore! word op Sondag, 10 Oktober 2021 om 14:00 by die ERT vertoon.
Kostes beloop R100 per persoon. Bespreek jou plek nou deur jou naam en die aantal kaartjies wat jy benodig te WhatsApp na 0632175147.
