Local newsNewsNews

Vervalle perseel en sluipslapers ‘n bron van kommer in Sasolburg

Die AfriForum-tak in Sasolburg het ’n brief aan die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin hulle versoek het dat daar dringend iets gedoen word aan die haglike toestand van ’n vervalle huis in Van Eckstraat.

Dié huis is vervalle en sonder ’n dak, die tuin is toegegroei, daar woon sluipslapers wat by verdagte aktiwiteite betrokke is en daar was onlangs ’n poging tot verkragting op ’n verbyganger.

Hierdie perseel is dus nie net ’n seer oog nie, maar dit is ’n veiligheids- en ’n gesondheidsrisiko. Die munisipaliteit is daarvoor verantwoordelik om die eienaar van die huis te verplig om die perseel in stand te hou.

Die munisipaliteit het ontvangs van die brief erken en onderneem om die saak na die tersaaklike afdeling te verwys. Die bestuurder van die sekuriteit- en veiligheidsafdeling, Mpume Cindi, het reeds met die Sasolburg-tak in verbinding getree en laat hoor dat hy bereid is om iets aan die saak te doen.

Die AfriForum-tak is ook tans besig om ’n petisie onder die inwoners van die area te versprei om hulle misnoeë oor die situasie te kenne te gee. Hierdie petisie sal ook aan die munisipaliteit oorhandig word.

“Onveilige persele soos hierdie kan eenvoudig nie in enige gemeenskap geduld word nie. Dit is die munisipaliteit se plig om teen hierdie eienaar op te tree en toe te sien dat die gevaar uit die gemeenskap verwyder word.

“Die AfriForum-tak hou die situasie dop en indien daar nie binne ’n week se tyd beduidende vordering is nie, sal verdere stappe geneem moet word.

“Ons is egter verheug dat die munisipaliteit bereid is om met ons saam te werk om die probleem op te los,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier-streek.

Die Sasolburg-gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Sasolburg” na 45344 (R1).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button