Ben Kruger – Herdenkingsdiens vandag
Ben Kruger se familie het aangekondig dat sy gedenkdiens vandag plaasvind.
Die geliefde Suid-Afrikaanse akteur, Ben Kruger se herinneringsdiens sal vandag, 4 Oktober om 15:45 plaasvind.
Die diens sal aanlyn uitgesaai word. Om in te skakel gaan na www.facebook.com/benkruger.1957.
Ben was voor sy afsterwe op 26 Mei 2021 bekend as Oom Okkie van die TV-sepie, Binnelanders.
Deur die jare het hy in verskeie ander reekse sy verskyning gemaak.
So was hy, onder andere, Neef Gert in 7de Laan, Tiny in Die Uwe Pottie Potgieter en Vlok Vorster in Moeggeploeg.
Hy het ook in verskeie Engelse reekse gespeel, en was ‘n gesoute akteur in rolprent en teaterproduksies.
Op sy Facebookblad het hy sy aanhangers ook vermaak met kosdemonstrasies, foto’s, herinneringe en stories.
Vir my sal hy altyd Skooldae se Mnr. Christo de Wet, die jong geskiedenisonderwyser van Akademie Hoër bly.
Nadat die Kruger-familie die tyd en datum van Ben se gedenkdiens aangekondig het, het huldeblyke weer van vooraf op sy Facebookblad ingestroom.
