Local newsNationalNewsNews

Sestal vereer vir hulle bewaring van Afrikanererfenis

Die FAK het die afgelope naweek vir die heel eerste keer aan ’n groep van ses erkenning gegee vir die beskerming en behoud van die Afrikanererfenis in hulle betrokke gemeenskap.

Hierdie groep van ses, of “Die Gideonsbende” soos almal hulle leer ken het, bestaan uit Gys en Kobie Ströh, Okkie Jooste, Mark Walkden, Frans Harding en Marius van Zyl.

Die Ströh-egpaar staan ook bekend as die monumentjagters bekend en bedryf die Facebook-blad, Monumente, gedenktekens en interessanthede Suid-Afrika.

Die ander vier mans is lede van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging.

“Hulle is ’n werklike inspirasie vir almal. Bo-en-behalwe dat hulle elkeen ook verteenwoordigend is vir ander instansies, het hulle ook werklik hulle deel al dubbel en dwars gedoen as deel van die FAK-Vaal-Kultuurnetwerk.

“Waar die meeste mense net by die huis sal sit of baie min sal doen, neem hierdie sestal gereeld die leisels, nie net om ons erfenisbakens te beskerm en behou nie, maar ook om ’n lewenslange verskil te maak in die sigbaarheid van ons nalatenskap.

“Hulle is ’n voorbeeld vir elkeen van ons en dra die vaandel hoog vir ons trotse Afrikaneridentiteit. Hulle het meer as net ’n liefde vir ons Afrikanererfenis, hulle het ’n lewensdryf in oorgawe om in hulle gemeenskap en orals rondom hulle die Afrikanernalatenskap aan te moedig en ’n ewige nalatenskap te los.

“Ons is tans besig om die toekoms se geskiedenis te skryf en hierdie Gideonsbende is besig om ’n hele hoofstuk te skryf. Mag elk van ons in hulle voetspore volg,” sê Barry Müller, projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng.

Dié sestal is elkeen met ’n sertifikaat van waardering vir hulle onbaatsugtige werk vereer en met ’n lekker wegbreek en kuier by die FAK se Udolpho Rivierplaas naby Parys in die Vrystaat bederf.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, wat hulle op dié plaas ontvang het en ook al op projekte in dié provinsie saam met hul gewerk het, sê hierdie groep van ses is vrywillige lede wat projekte bywoon en soms self inisieer.

“Dit is mense wat die konsep van selfdoen verstaan en ’n daadwerklike verskil vir die nageslag maak.

“Erfenis- en kultuurbewaring is in hul gedagtes vooropgestel en hulle ondersteun hul gemeenskappe, dienende tot voordeel van ieder en elk.

“Hulle is ’n handjievol gemotiveerde Afrikaners, en dit is al wat nodig is om die vuur aan te steek om die fakkel vorentoe te kan dra.

“Ek wil elkeen wat die fakkel in sy hart ook voel brand en die roeping verstaan, uitnooi om ook deel te word van iets groter as die ekself. Die FAK is ’n kultuurtuiste vir die toekoms wat ons met trots aanpak,” sê Malan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button