Bravo ERT! Encore André Rieu!
Together Again - Join the Celebration was 'n fees. Moenie Together Again - Encore misloop nie.
SASOLBURG. – Die Etienne Rousseau Teater het Sondag, 26 September hul eerste fliek in samewerking met Nebula Musiek en Produksies aangebied.
Dit was ‘n digitale skouspel van André Rieu en sy Johann Strauss orkes, Together Again – Join the celebration.
Die produksie is spesiaal vir die grootskerm vervaardig en dit was ongelooflik om dit in die teater te kon sien en te ervaar.

Almal wat die vertoning bygewoon het was dit eens dat dit ‘n besonderse ervaring was.
Die kommentaar op ERT se Facebookblad het dit onderskraag.
Marietta van Wyk het gesê: “Was so lekker – klank en beeld was uitstekend.”
Rina Bosch het bygevoeg: “Ons was daar. Lekker geluister en amper saam gesing.”
Estelle Boers het dit beaam met: “Was wonderlik gewees!!!”
Indien jy die skouspel misgeloop het, het jy nog ‘n kans om dit te beleef.
Die vertoning sou wêreldwyd eenmalig in teaters vertoon word, maar die aanvraag was so groot dat André besluit het om die vertoning vir ‘n tweede keer beskikbaar te stel.
Together Again – Encore! word Sondag, 10 Oktober om 14:00 by die ERT vertoon. Kostes beloop R100 per persoon.
Bespreek jou plek nou deur jou naam en die aantal kaartjies wat jy benodig na 063 217 5147 te WhatsApp.
Herman van Niekerk van die ERT het laat weet dat die teater nou ‘n ooreenkoms het met die Suid-Afrikaanse verteenwoordigers van die Royal Opera, Royal Ballet en Royal Shakespeare Company in London om enige van hul produksies twee weke na die lewendige opname te mag vertoon.
“Ons hoop om volgende jaar van die Shakespeare produksies by die Etienne te kan vertoon, nadat ons bepaal het watter skole belang sou stel om dit by te woon,” het Herman gesê.
Vir die laaste maande van vanjaar is daar naas André Rieu se Encore vertoning op 10 Oktober, ook André se Kersfeesvertoning. Sondag, 17 Oktober kan mense terugsit en Three Tenors – Voices for Eternity, geniet.
Hierdie vertoning fokus op Luciano Pavarotti, José Carreras en Plácido Domingo, van hul debuut as The Three Tenors in 1990 tot by Pavorotti se afsterwe in 2007.
Meer inligting oor hierdie en ander vertonings is beskikbaar op die Facebookblad @ERTSasolburg.
