LifestyleNews

SA se jongste band uit die Vaal verras met nóg ‘n enkelsnit

Musiekkenners voorspel ’n blink toekoms vir die vier orkeslede.

Die 4 Eva Young Band, amptelik die jongste popgroep in die land, het pas hulle eerste oorspronklike Afrikaanse enkelsnit, Ek is net ’n kind, vrygestel. Dié snit is ’n borrelgom-kinderplesier waarby nie net die jongklomp nie, maar ook hul ouers aanklank sal vind.

In ’n neutedop: Almal wat nog nie heeltemal van “die dinge van ’n kind” ontslae geraak het nie, sal sommer ’n ou-skuur plaasdans doen as hulle na die liedjie luister. Dit is eintlik ’n nostalgiese onthou-liedjie van lang somersdae op Oupa en Ouma se plaas, dae van kettieskiet en “’n mielie of twee gaan steel.” Die titel van die snit is ook heel gepas want die vier kinders se ouderdomme wissel tussen 9 en 11, en boonop is die jongklomp ook instrumentale wonderkinders, maar met hul kindervoete plat-op-die-aarde. Ruben Herbst (10) bespeel die baskitaar amper net so goed soos Suid-Afrika se voorste baskitaarspeler Schalk Joubert. En as dáárdie vingers so liefkosend die regte akkoorde druk, word enige ouer se hart sommer week. Caitie Rock (11) en Johan van Rooyen (11) is albei die groep se voorsangers en Johan speel ook kitaar. Zandri Bezuidenhout (9), wat al amper net so goed soos ons eie Ghapi is, is die groep se drommer.

4 Eva Young, wat in die Vaaldriehoek ontstaan het, het sowat drie maande gelede hul toetrede tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak met Sunny Day. Dié liedjie het uitstekend op plaaslike en nasionale radiostasies gevaar. Drickus Bezuidenhout van Mergemusiek (en pa van die talentvolle Zandri) het Sunny Day geskryf en vervaardig. Met Ek is net ’n kind het hy presies die regte atmosfeer vasgevang om mens te laat besef dat elke mens herinneringe nodig het om aan vas te klou. “Die liedjie handel oor hoe om so lank as moontlik kind te bly. Om vlieërs te vlieg, om met ketties te skiet en kleilat te gooi…. om kind te wees en pret te hê.

Die liedjie tower ’n utopiese plaasprentjie op waar kinders nog op die trekker kan ry en die veld geniet,” sê Drickus, wat erken dat hy in sy hart nog ’n regte plaasseun is. Drickus verstaan die hart van ’n kind, ’n diep verstaan wat ook weerklank in die koorgedeelte vind: “Want die tyd vlieg so gou verby. Solank as wat ek kind bly. Met glinster in my oë, sal ek bly lag. Op die plaas kry ek nuwe krag.”

Ek is net ’n kind is ’n moderne goedvoel-popliedjie wat die kinders se stemme goed pas. Dit is ’n bekoorlike liedjie wat net op die regte tyd, aan die begin van die lente, uitgereik word.

Musiekkenners voorspel ’n blink toekoms vir die vier orkeslede. Hul Vaaldriehoekse bewonderaars gaan sekerlik met groot belangstelling toekyk hoe hulle voorthuppel op hul musikale sonskynpad.

**********************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button