Gru-moord op ‘hawelose’ vrou stuur skokgolwe deur Vosloopark-plakkersgemeenskap
Familie van vriende van Cindy van Niekerk, 'n vrou wat in Maart spoorloos verdwyn het, glo 'n lyk wat op Sondag 4 April 2021 in die Vaalrivier gevind is, is dié van hul geliefde Cindy.
VEREENIGING. – Die polisie sê die lyk van ‘n vrou van ongeveer 1.6 meter en ongeveer 65 kg is naby die Vaalrivier-brug op die R59-snelweg in die water gevind.
Haar hande en voete was vasgebind, sy was kaal en daar was ‘n klein handdoek om haar kop gedraai.
Gedeeltes van die vrou se kop was kaal geskeer en sy het hoofbeserings gehad.
Volgens ‘n verslag van die nadoodse ondersoek het sy moontik die hoofbeserings deur middel van “steniging” opgedoen.
‘n Klein hoeveelheid water in haar longe dui daarop dat sy moontlik nog gelewe het toe sy in die water gegooi is.
Die polisie reken dat sy ongeveer 20 dae in die water gedryf het voor sy gevind is.
Volgens Sandra Seedat, ‘n inwoner van Leeuhof en goeie vriend van die oorledene, is die familie vas oortuig dat dit Cindy se liggaam is.
Seedat, wat foto’s van die lyk gesien het, sê: “Dit was grusaam. Daar was snye op haar kop, sy was kaal, sy was vasgebind.”

“Jy kon sien wie ookal die moord gepleeg het … daar was soveel haat, jaloesie, boosheid. Dit was net boos,” vertel sy.
Volgens Seedat het Cindy, wat gereeld by haar huis oorgebly het, in die plakkerskolonie in Volsoopark, langs die rivier gebly voor haar verdwyning.
Sy was volgens Seedat streng gesproke, nie “haweloos” in die ware sin van die woord nie, aangesien sy altyd welkom was in Seedat se huis.
Cindy het volgens Seedat egter verkies om langs die rivier te bly.
“Sy het vir my gesê dat sy na haar oom (wat daar bly) toe gaan,” vertel Seedat.
Van Niekerk se broer, Pieter, het intussen ‘n belonging van R50 000 aangebied vir inligting wat tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van Cindy se moordenaar kan lei.

In die plakkerskolonie by Vosloopark gons dit oor Cindy se verdwyning en die lyk wat gevind is.
Vaalweekblad het met mense in die plakkerskolonie gaan gesels.
Mense met inligting kan die ondersoekbeampte a.o. De Beer by 082 301 3033 skakel of die Viljoensdrif-polisiestasie by (016) 974 6261.
Inligting kan ook vertroulik op die Crime Stop nommer deurgegee word by 08600 10111.


