DALESIDE. – Fietsry is tegelykertyd ‘n spansport waar spanlede hul deel aan die voorpunt moet doen om die wind vir hul span te breek, maar ook ‘n individuele sport, aangesien niemand anders daardie pedale vir jou gaan trap nie.
Team Roshnee se jaarlikse individuele- en span-tydtoetsren is op 3 Oktober by Café du Cirque in Daleside gehou. Soos gewoonlik het dit weer fietsry-aksie en ‘n kleureskouspel uit die boonste rakke opgelewer!
Individuele tydtoets
Die individuele tydtoets staan in fietsry ook as die “Wedren van Waarheid” bekend aangesien dit die individuele ryer teen die klok is en daar geen ander ryers is om agter te skuil of die wind te breek nie.
Vanjaar het Christo van der Merwe koning in die individuele tydtoets vir mans gekraai deur die afstand van ongeveer 21 km in ‘n tyd van 00:31:13 te voltooi.
Masood Sujee het in ‘n tyd van 32:12 klaargemaak en die tweede plek behaal.
Ephraim Aklwmali het ‘n derde plek in die tydtoets in ‘n tyd van 00:32:45 behaal.
Daar was vanjaar aansienlik minder vroulike deelnemers as in vorige jare.
Yasmina Nagdee het die individuele tydtoets vir vroue in ‘n tyd van 00:37:43 gewen, met Bianca Loock in die tweede plek in ‘n tyd van 00:38:56. Aangesien net twee vroue deelgeneem het, was daar nie ‘n derde plek nie.
Span tydtoets
Fietsryspanne het tydens die span tydtoets die belangrikheid van spanwerk gedemonstreer met spanlede wat elk beurte gemaak het om die wind aan die voorpunt vir die spanmaats agter hulle te breek.
Die pers sneltrein van die SKYN H.A.B-rapiscan-span het hul liggie helder laat “skyn” en ‘n eerste plek in die spantydtoets behaal.
Die span bestaande uit Eric Kros, Justin Lloyd, Steven Oberholzer, Martyn Davies, Marc Salie en Reynard Butler het die tydtoetsroete van sowat 21 km in ‘n blitsvinnige tyd van 00:28:07 voltooi.
Die TVS Cycles-span met individuele tydtoetswenner Christo van der Merwe in hul midde, het die tweede plek behaal. Van der Merwe en sy spanmaats, Ephraim Aklamali, Gerhard Stranssner en Mlandu Malaba het die roete in ‘n tyd van 00:29:24 afgelê.
Die geel sneltrein van die Tri-Star-span was derde. Die span bestaande uit Maurice Williams, Pieter Avenant, Dewald Malan, Hendry Johnson en Pierre Potgieter het die roete in ‘n tyd van 00:30:12 afgelê.


**************************************************************************************************************************
