News

Botsing op R59: Bestuurder het net gebreekte neus en snywonde

"Hierdie was werklik ‘n wonderwerk!”

MEYERTON. – Motoriste wat verlede Dinsdag verby ‘n skouspelagtige ongelukstoneel op die R59-snelweg naby Heineken gery het, het kort daarna op sosiale media begin bespiegel dat die bestuurder van die bakkie, wat tussen twee swaarvoertuie vasgeklem was, waarskynlik nie oorleef het nie.

Die goeie nuus is dat die bestuurder, Wynand Scheepers (26), die botsing oorleef het en boonop geen lewensbedreigende beserings opgedoen het nie.

Wynand, ‘n swaarvoertuig-werktuigkundige, vertel: “Ek het die voorste vragmotor vanaf die Heidelbergpad se oprit na die R59 met my werkgewer se bakkie gevolg om te kyk of ‘n probleem waaraan ek vroeër op die trok gewerk het, weer opduik. Die trok moes stilhou nadat lug weer uit sy stelsel ontsnap het. Met die bakkie se noodligte aan, was ek besig om stadig agter die trok in die geellyn in te beweeg toe ek skielik ‘n geweldige slag van agter af voel.

“Toe ek tot verhaal kom, het ek probeer om die bakkie se deur oop te maak maar dit wou nie oop nie. Die kajuit was opgefrommel en ek het links gaan lê om die gebreekte windskerm uit te skop. Ek het besef daar was baie bloed wat uit my kop en neus stroom. Ek het my neus met een hand toegedruk en my oë met my ander hand beskerm en die ruit uitgeskop,” vertel Wynand.

Dit was eers nadat hy hom uit die wrak gewurm en buite gestaan het dat hy besef het hoe erg die bakkie tussen die twee vragmotors vasgeklem was. Hy het sy baas dadelik met die slegte nuus gebel. Wynand is na ‘n plaaslike hospitaal geneem, waar hy die volgende vyf ure behandel is. Hy het ‘n gebreekte neus opgedoen, sowel as diep snye aan sy kop en onder sy regteroor, wat met steke geheg is.

“Ek dank die Vader daar Bo dat ek nie ernstiger beseer is nie,” sê hy.

Die bakkie is ‘n totale wrak. “God was saam met hom gewees, dis vir seker,” sê mnr. Riaan Potgieter van A Assist Towing, wat die wrak weggesleep het.

Wynand se vrou, Tammy, sê dit was nog altyd haar grootste vrees dat Wynand in ‘n ongeluk sou kom. Sy kon hom nie in die hospitaal besoek terwyl hy behandel is nie, maar toe sy die aand die foto’s van die ongelukstoneel sien, het sy van vooraf begin huil.

Wynand se ma, mev. Desiré Scheepers, sê die familie is oneindig dankbaar dat hy nie ernstiger beseer is nie. “Ons as familie het eerstens ons Hemelse Vader dankie gesê vir Sy beskerming oor Wynand. Ons opregte dank gaan ook aan sy werkgewer en sy werkgewer se vrou vir hul bystand en ondersteuning aan Wynand tydens en na die ongeluk. Aan almal wat betrokke was, baie dankie. Hierdie was werklik ‘n wonderwerk!”

Die ongelukstoneel van die bakkie wat tussen twee swaarvoertuie vasgeklem was.
Wynand Scheepers in die hospitaal tydens sy behandeling verlede Dinsdag.
Wynand voor die ongeluk.
Die ongelukstoneel van die bakkie wat tussen twee swaarvoertuie vasgeklem was.

***********************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button