Drama in SE4 oor selfoontoring
Inwoners van SE4 het Saterdag saamgestaan en gekeer dat 'n ekstra-hoë selfoontoring in hul area opgesit word.
VANDERBIJLPARK. – Saterdagoggend 9 Oktober 2021 was geskeduleer vir die oprigting van ‘n nuwe selfoontoring in Sabierivierstraat in SE4.
Die afgelope twee jaar is daar al planne beraam om die toring deur ‘n nasionale maatskappy in ‘n privaat erf op te rig.
Die eienaar van die erf, Gideon Louw, sê al die nodige planne is opgetrek en studies is gedoen alvorens daar met die fondasie begin is.
Hulle het ook die nodige toestemming van Emfuleni Munisipaliteit gekry.
Maar, die omliggende inwoners stem nie saam nie.
Peet Denner sê die gemeenskap is nie in die saak geken nie en dat hulle nie die onooglike toring in hul midde wil hê nie.
Hulle het dus Saterdagoggend toe die hyskraan en groot voertuig opdaag met die toring, wat oor die 25 m hoog sal staan, die pad versper met hul voertuie.
Gewone motors kon deurgaan, maar die swaar voertuie nie. Die twee faksies het heeldag teenoor mekaar gestaan.
Die polisie is later gebel en daar is blykbaar bewyse oorhandig dat alle omgewingsimpak studies nie gedoen is nie en dat die gemeenskap nie gekonsulteer is nie.
Peet sê die beplande oprigting van die toring is ook nie in enige media geadverteer nie.
Volgens Gideon het die maatskappy wat die toring wou oprig uiteindelik besluit om nie nou die toring op te rig nie.
Daar sal nou ‘n nuwe toring gemaak word wat aan die gemeenskap se vereistes dat dit meer gekamoefleer moet wees sal voldoen.
Hy het die gerugte dat dit ‘n 5G-toring sal wees ontken. “Dis net ‘n gewone selfoontoring,” het hy in ‘n telefoniese onderhoud gesê.
Gideon sê al die planne en goedkeurings is in plek. Die toring sal wel op ‘n stadium opgerig word.
Die inwoners het in ‘n verklaring gesê hulle wil benadruk dat hulle nie as sulks teen ‘n toring gekant is nie.
Hulle voel net dat hulle nie in vooraf samesprekings betrek is nie en dat daar nie na hul behoeftes geluister is nie.
Wie uiteindelik die stryd gaan wen is ‘n oop vraag, maar vir eers is die inwoners tevrede dat hul die onooglike toring van hul voorstoep kon weghou.
