Wit strikke bring dankie boodskappe
“Julle gee ons hoop. Ons waardeer julle oneindig.” - 'n Boodskap op een van die strikke.
VANDERBIJLPARK. – Solidariteit het in samewerking met verskeie skole in die area wit strikke by MediClinic Emfuleni opgesit.
Die groot karton strikke by die ingang van die hospitaal bevat boodskappe van hoop en dankbaarheid wat deur onderwysers geskryf is.
Johan Venter van Solidariteit in Vanderbijlpark het gesê dat die organisasie by verskeie hospitale ‘n wit strik van hoop en ‘n dankie-muur opgesit het as ‘n teken van dankbaarheid aan gesondheidswerkers wat in die voorste linie tydens hierdie pandemie veg.
“Ons het dit toe goed gedink om 11 skole in die omgewing te nader sodat die onderwysers, wat ook ‘n belangrike rol in die gemeenskap vervul en hulself ook daagliks blootstel, ‘n boodskap van hoop op hierdie strikke kan skryf.”
Die skole wat deelgeneem het is Laerskool Risiville, Hoërskool Drie Riviere, Laerskool Emfulenipark, Laerskool Kollegepark, Laerskool Totius, Hoërskool Driehoek, Hoërskool Transvalia, Vaalpark High, Vaalpark Primêre Skool, Primêre Skool Fonteine en Vaal Christian School.
Die onderwysers het met groot entoesiasme deelgeneem aan die inisiatief. Uit hul boodskappe kan mens agterkom hoeveel hulle die werk van die gesondheidspersoneel waardeer.
“Ons dra jul daagliks in ons gebede. Dankie dat julle julle kosbare gesondheid op die spel plaas deur na ons om te sien! Woorde skiet ver tekort … Ons waardeer julle,” staan onder andere op Primêre Skool Fonteine se strik.
Op ‘n ander strik vra een: “Hoe kan mens ooit genoeg dankie sê? Because being a nurse is more than a job, it’s a way of life!”
Een van die onderwysers van Laerskool Emfulenipark het almal se gevoel goed saamgevat met: “Baie dankie. Dis nie altyd maklik om ‘n “frontline worker” te wees nie. Ons waardeer al die “Battles” wat julle vir ons veg.”
Anlia Archer, organiseerder van die Onderwysgilde by Solidariteit het in ‘n mediaverklaring gesê: “Die deernis en meegevoel van hierdie onderwysers motiveer ons almal om die onbaatsugtigheid van mediese werkers raak te sien, nie net tydens die pandemie nie, maar elke dag van ons lewens.”
