LifestyleNews

Claire Hopkins stel positiewe nuwe Country-popsnit, Keeper, bekend

Dié sangeres is ook 'n sielkundige wat haar medemens se emosies verstaan...

Volgens Die Woordeboek, is ’n “keeper” iemand met goeie eienskappe waarmee jy ’n blywende verhouding kan hê. Dit is presies wat die sanger en liedjieskrywer, Claire Hopkins, gevind het toe sy haar kêrel Stuart ontmoet het en hy is ook die inspirasie agter haar eerste oorspronklike enkelsnit.

KEEPER is dié beeldskone jong kunstenaar se eerste oorspronklike liedjie, maar haar derde vrystelling – sy het vroeër vanjaar weergawes van Drunk en Undo It uitgereik. Haar tweede oorspronklike snit word reeds vervaardig en ‘n musiekvideo KEEPER sal ook binnekort bekendgestel word.

KEEPER is ’n country-/ popsnit, wat haar stem soos ‘n handskoen pas.  Dit gaan daaroor om iemand spesiaal te ontmoet en dadelik te weet dat julle vir mekaar bedoel is. “Nadat ek uiteindelik die moed bymekaar geskraap het om weg te stap van ’n onstuimige vyfjaar lange verhouding, het ek byna heeltemal vergeet wie ek is,” deel sy. “So, toe ek vir Stuart ontmoet het kon ek amper nie glo dat iemand soos hy in my belangstel nie. Hy is baie volwasse, goedhartig, gaaf, liefdevol, ondersteunend en gedrewe. Ons het baie pret saam en kan net onsself wees in mekaar se geselskap.”

“Buiten daarvoor dat die liedjie baie persoonlik is, weerspieël die wysie en tempo die pret en geluk wat ons deel,” sê Claire. KEEPER is opreg, rou en outentiek en die lirieke vertel hoe sy die liefde van haar lewe ontmoet het. Sy glo dat dit goed ontvang sal word, juis omdat dit so lighartig, positief en prettig is. “Gedurende ’n tyd waarin ons konstant omring word deur slegte nuus en negatiwiteit, is my wens dat KEEPER vir ander mense hoop en vreugde sal bring. Dit moet luisteraars laat goed voel, al is dit dan nou net vir ’n paar minute.”

Claire is in Durban gebore en het saam met haar gesin na Johannesburg verhuis toe sy vier was. Sy was haar hele lewe lank passievol oor musiek en het reeds op hoërskool professionele sanglesse ontvang. Op sewentien, het sy haar weergawe van Adele se Someone Like You professioneel laat opneem.

Tans is sy besig met haar internskap in Opvoedkundige Sielkunde en spog sy met ’n Onderwysdiploma, twee honneursgrade (Opvoedkundige Sielkunde en Remediërende Terapie) en ’n meestersgraad (Opvoedkundige Sielkunde).

Vir Claire hou haar liefde vir musiek nou verband met haar loopbaan. “As ’n sielkundige, werk ek daagliks met mense se stories, gevoelens, emosies en ervaringe. Op dieselfde manier, skep musiek ’n platform vir mense om hulself uit te druk en hulle stories te vertel.” 

Sy voeg by: “My liefde vir musiek is multidimensioneel. Eerstens skep dit ’n geleentheid om met ander mense te kommunikeer; tweedens is daar ’n genre vir elke bui; derdens is daar ’n liedjie vir elke lewenservaring; en laastens skep dit ’n platform om jou ervaringe te deel en jouself uit te druk. Vanuit ’n kuns- en professionele perspektief, is my doel om ander te laat goed voel. Ek wil hulle ondersteun en laat besef dat hulle nie alleen is nie.”

Haar familie, vriende en verhoudings inspireer haar, asook die begeerte om vreugde, hoop en positiwiteit te versprei. Alhoewel sy eintlik net ’n paar liedjies wou opneem vir haar familie om te geniet, het die geleentheid om haar eie liedjie te skryf en op te neem haar uit haar gemaksone gedruk en laat besef dat haar musiek potensiaal het. “Dit was sover ’n baie lonende en vervullende reis en ek is dankbaar vir die kans om hierdie aspek van myself te ontwikkel.” 

Wat haar planne vir die toekoms aanbetref, verklap sy dat sy dinge gaan vat soos dit kom en kyk waarheen die lewe haar lei.

KEEPER is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier:

https://music.apple.com/za/album/keeper-single/1587180630

https://open.spotify.com/track/4khFeBjVBhn1jGnv8x3tAN?si=lX0KtFxzTAKtfRyaxAxh_w

https://music.youtube.com/watch?v=-_A4OMLNp8g&feature=share

 

SOSIALE MEDIA SKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/claire.hopkins.923/

Instagram: @claire_bear_hopkins

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCPLDwpzRD-JBQGELjnOxQTw/featured

TikTok: @clairehopkins357

 

***************************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button