Local newsNewsNews

Vaalparkers patrolleer meer na hekmotor diefstalle

“Hierdie is uit en uit ‘n gemeenskapsprojek. Ons is werklik trots op Vaalpark se inwoners wat saamwerk en saamstaan om misdaad te beveg,” het Arrie bygevoeg.

VAALPARK. – Die vredevolle dorp langs die Vaalrivier het op 11 en 12 Oktober skielik deurgeloop onder hekmotor diewe.

Volgens berigte op Public Eye se Telegram VIP Action Group is daar op een dag 11 diefstalle van hekmotors by die polisie aangemeld.

Dit het die gemeenskap dadelik tot aksie oorgehaal en op 13 Oktober het Public Eye lede, Gemeenskapspolisiëringslede, inwoners en SAPD Taakspanlede saamgespan om die strate te patrolleer.

Arrie Coetzee van Public Eye sê hulle is dankbaar vir Sersant Morne van der Linde en sy Taakspanlede wat kom help het. Ongeveer 35 mense het om 18:00  bymekaargekom op 13 Oktober.

Die groep het Vaalpark se strate tot so ver as Wonderfontein gepatrolleer deur die nag. Terselftertyd het verskeie inwoners deurnag by hul huise hul sekuriteitskameras se skerms dopgehou en enige aktiwiteite gerapporteer.

Piet Sprong en sy span senior burgers het die oogtraan-gaap-skof in die vroeë oggendure waargeneem om die kameras te monitor.

Arrie sê die misdaad word hokgeslaan elke keer as hulle sigbare patrollering verhoog.

“Ons is ook nou besig om meer betrokke te raak by Wonderfontein Estates wat ‘n ent buite Vaalpark geleë is.

“Hulle loop deur onder gewapende roof, inbrake en diefstal. Ons vind dat veral motorfietse daar gesteel word.

‘Op die oomblik is ons nog reaktief  betrokke, maar hoop om ook daar  eersdaags voorkomend te kan optree.”

Daar is ook al hoe meer inwoners in Sasolburg wat vir Public Eye se hulp vra, omdat hulle ‘n toename in misdaad ervaar.

“Ons is baie dankbaar dat die SAPD meer polisielede van die areakantoor af beskikbaar gestel het om te help om misdaad in die Fezile Dabi Distrik te bekamp. Die groter polisiemag in die area maak ‘n groot verskil,” het Arrie gesê.

Die goeie verhouding tussen die gemeenskap en die SAPD in Vaalpark dra by tot die lae misdaadsyfers in die dorp. Intussen vorder die kamera projek ook goed.

Daar word beoog om R300 000 in te samel om drie torings met kameras by verskeie van die dorp se ingange op te sit.

Die eerste doelwit is reeds bereik. Die kontrolekamer kan nou opgradeer word met nuwe toerusting wat Public Eye dadelik in staat sal stel om enige van sy lede se sekuriteitskameras, tot so ver as Sasolburg, se beeld te kan sien.

“Hierdie is uit en uit ‘n gemeenskapsprojek. Ons is werklik trots op Vaalpark se inwoners wat saamwerk en saamstaan om misdaad te beveg,” het Arrie bygevoeg.  

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button