Vermeende selfoondiewe loop hul rieme styf in Meyerton
Twee mans is Woensdagmiddag (14 Oktober 2021) danksy die flinke optrede van lede van die publiek, 'n sekuriteitsmaatskappy en die polisie in hegtenis geneem nadat hulle glo 'n selfoon by 'n winkel in Lochstraat gesteel het.
VEREENIGING. – Die mans het hulself glo as klante voorgedoen en by die kantoor van Silwane Printers, Covenant Branding Solutions en MEM Group ingestap.
‘n Dame wat daar werk het aan Vaalweekblad verduidelik dat die mans gemaak het of hulle oorpakke wou koop.
Terwyl ‘n werknemer die een rondgewys het, het die ander een op en af geloop.
Hy het die foon gevat en in sy sak gedruk.
Die dame het dit gesien en later geskree vir hulp.
Volgens Paul Marais van die sekuriteitsfirma Red Trac het ‘n werknemer die lawaai gehoor en onmiddelik wagte op die radio gekontak.
Omstanders het gehelp om te keer dat die mans wegkom.
Gerhard Smuts het gekeer dat die mans wegry, terwyl Rory Brandon die sleutels uit hul voertuig se aansluiter geruk het.
Die wagte was gou op die toneel en kon die mans aankeer.
Hulle is deur die polisie in hegtenis geneem.
Die voorval het omstreeks 12:56 in die middag gebeur.
Vaalweekblad kan nie die verdagtes se name bekend maak alvorens hulle in die hof gepleit het nie.
