LifestyleNews

Jou ‘beste vriend’ kan ook jou gesin se beste lyfwag wees

Die vergiftiging van honde kom deesdae gereeld in die Vaaldriehoek voor en word dikwels deur ‘n inbraak gevolg nadat die dier dood is. Hondekenner Gerhard Swanepoel het dié raad vir honde-eienaars:

Honde word nie net as die mens se beste vriend beskou nie. In baie gevalle is hulle ook jou eerste verweer teen misdadigers wat wil inbreek, steel en seermaak.

Alle ware diereliefhebbers weet dat honde kan praat… maar net met mense wat weet hoe om te luister. Een so ‘n luisteraar is Gerhard Swanepoel, wat reeds as jong seun in Waterval Boven besef het dat hy ‘n besondere band met honde het, wat hom in staat stel om met hulle te “kommunikeer” en op te lei. Dis ‘n talent wat in sy volwasse lewe as lid van die Polisie se honde-eenheid en later in sekuriteitsondernemings handig te pas gekom het.

Vandag is Gerhard afgetree, maar steeds ‘n reisende opleier wat honde van so jonk as ses maande oplei – verkieslik in en om hul eie, bekende erwe. “Ek lei honde by hul huise op waar hulle grootgeword het. Hulle ken die huis en perseel, en is gewoond aan die omgewing se geluide,” sê hy.

Hoewel Gerhard hoofsaaklik honde vir inwoners van die Vaaldriehoek en Noordwes oplei, reis hy ook na ander provinsies om sekuriteitsmense, algemene boere en wildsboere se honde te leer spoorsny, spoorloop en bloedspoor volg. Huisdeursoeking en perseeldeursoeking maak ook deel van dié gevorderde opleiding uit. Opleidingsessies duur gewoonlik vyf dae.

Algemene opleiding vir stadsgesinne sluit onder andere gehoorsaamheid in, soos om nie teen mense op te spring nie, nie kos van vreemdelinge te aanvaar nie en nie vergiftigde kos in die erf te eet nie. Onder sy bekwame leiding word gewone gesinshonde wakker waghonde wat ‘n groot rol in gesinne se huis- en perseelbeveiliging speel.

Die vergiftiging van honde kom deesdae gereeld in die Vaaldriehoek voor en word dikwels deur ‘n inbraak gevolg nadat die dier dood is. Gerhard het dié raad vir honde-eienaars om te voorkom dat hulle vergiftigde kos in die erf eet: “Eerstens moet net die huismense vir die hond kos gee. Wanneer jy braai, laat al die mense hul oorskietkos en bene in ‘n bak sit, en na die braai gee net een van die huismense dit vir die honde. Tweedens, wanneer jy kos vir jou hond gee, bied dit met jou linkerhand aan, dat die hond slegs iets sal aanvaar wat met die linkerhand gegee word. Derdens, strooi rooipeper dik oor ‘n stuk vleis en los dit langs die heining. Jou hond sal net een keer daaraan byt en nie maklik wéér aan kos eet wat in die erf rondlê nie.”

Gerhard sê ‘n ongehoorsame hond moet nooit fisies gestraf word nie. “Ek straf die hond met my stemtoon. ‘n Kort, harde ‘nee’ is al wat nodig is,” sê hy.

Belangstellendes wat meer oor Gerhard se werk met honde wil uitvind, kan hom by 082 749 6927 kontak. Hy is ook beskikbaar op WhatsApp.

Gerhard Swanepoel het reeds op ‘n jong ouderdom besef dat hy ‘n spesiale band met honde het wat hom in staat stel om hulle maklik op te lei.
Vandag is Gerhard ‘n reisende honde-opleier wat ‘n diens aan sekuriteitsondernemings en boere lewer, maar ook huisgesinne help om hul honde in huisbeveiliging op te lei.

 

***********************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button