Local newsNewsNews

Oggend geveg met ‘n dooie boomtak

In 'n ligter luim - vroegoggend onderonsie met 'n boomtak

Daar is ‘n boom net so neffens die wasgoedlyn se paal in ons erf geplant.

Die wasgoedpaal is een van daardie ronde gedoentes met drade van binne na buite.

Vir dekades het die boom en wasgoedlyn in vrede langs mekaar gestaan.

Die boom se takke het ietwat wyd begin strek en die wind het onlangs ‘n tak sommer geheel uit verhouding gedruk.

Ma kom dit agter toe sy wil wasgoed ophang. Sy kom roep my. “Jy sal moet help, ek kry nie die tak af nie.”

“Watter tak nou?” is ek heeltemal uit die veld geslaan.

“Die boom by die wasgoeddraad se een tak hang in die pad. Dit gaan die klere hak,” verduidelik Ma.

Ek weet vir ‘n feit dat ons nie ‘n kettingsaag van ‘n dagoud het nie, so my eerste gedagte is, waarmee wil sy die tak afsaag?

By die boom gekom bekyk ek die tak wat so aweregs na buite dwing. Ek kan die probleem insien, maar die oplossing ontwyk my geheel en al.

Ma gee vir my ‘n handbyl aan. Ek sien hier kom moeilikheid. “Ek sal vashou dan kap jy die tak af,” kondig sy aan asof ek ‘n ouhand met ‘n byl is.

Ek gee so ‘n paar manmoedige power kappies met die byl, terwyl ek koes vir die takke bokant my kop wat dreig om my soos wyle Absalom te verstrengel.

Binne ‘n paar sekondes besef ek dit gaan nie werk nie. Elke kap wat ek gee land op ‘n ander plek.

“Nee,” sê ek, “ons gaan heeldag hier staan. Ek het nie tyd hiervoor nie.”

Ma vat die byl by my. “Wag, ek gaan haal die saag,” sê sy.

“Saag? Watter saag?” wonder ek nog, toe is Ma terug met so ‘n lendelam saag wat kompleet lyk of ‘n mens dit eerder teen die muur moet opsit vir versiering.

Ek moet bieg, ek het in my lewe nog nooit met ‘n saag of byl gewerk nie. Dus het ek geen idee wat ek doen nie.

Kry toe maar vir saag aan die handvatsel beet, koes weer vir die tak bokant my kop en probeer saag.

Die lem wobble, my hand kry ‘n kramp en my geduld word al hoe minder. Die dooie tak is egter nog byna ongeskonde.

Ek probeer die tak afdruk, maar het nie genoeg krag in my arms nie. ‘n Klein takkie breek van die groter tak af en Baba Bessie tel dit so ewe op en dra dit weg. Seker gedink sy help.

Ma is weer terug op die toneel nadat sy die saag gaan bêre het. “Miskien kan ons die tak afbreek,” stel sy voor en druk die tak bietjie na links.

Ek hoor die kraak en sien die lig. “Dis ‘n goeie idee. Ma, vat vir Antjie onder my voete uit,” beduie ek.

Ek tree eers ‘n tree terug en bekyk die tak soos ‘n losskakel die pale bekyk voor ‘n strafskop.

En toe? Toe loop ek daai dooie tak morsaf!

Ek was daarna bietjie vuil, maar Ma kon darem die wasgoed ophang.

‘n Week later het professionele mense met die regte toerusting die boom se dooie takke afgesny.

Boom en wasgoedpaal kan nou weer in vrede leef en ek hoef nie ‘n byl of saag baas te raak nie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button