Vrouwees gevier in dansproduksie by ERT
"I am my own muse, I am the subject I know best. The subject I want to better." - Frida Kahlo
SASOLBURG. – Presies twee jaar na hul laaste vertoning, Overture, is Georgina’s Dance Studio se dansers weer terug op die verhoog met ‘n nuwe produksie, Woman in Art.
Dis ‘n spesiale vertoning waar dans, musiek en kuns saamgevoeg word om vroue te vier.
Dit vind plaas by die Etienne Rousseau Teater op Sondag, 24 Oktober 2021 om 15:00.
Woman in Art vier vrouwees in elke faset en raak ook sensitiewe onderwerpe soos borskanker en onvrugbaarheid aan.

Elke kant van vrouwees word in die vertoning na vore gebring.
“Daar is nommers wat sag is, wat die sagte kant van vrouens wys en dan ook nommers wat wys hoe sterk en forceful vroue in hul karakters kan wees,” sê Georgiina Jacobs, eienaar van Georgina’s Dance Studio.
Sy sê 32 dansers sal tydens die vertoning te sien wees, waaronder 16 seniors en 9 van die studio se jonger dansers.
Die inspirasie vir die vertoning is verkry by die bekende skilder Frida Kahlo wat gesê het: “I am my own muse, I am the subject I know best. The subject I want to better.”
‘n Uitstalling deur plaaslike kunstenaar Charisse Ashton onder die tema Vroue sal in die teater foyer besigtig kan word.
Die gaskunstenaar is die musikant, digter en skilder, Almero Welgemoed.
Kaartjies is R180 per persoon. Bespreek via Whatsapp – 0632175147.

