Knapgedaan Vaalpark Primêr!
Vaalpark Primêr het ingespring en self een van die dorp se strate opgeruim
VAALPARK. – Die Vaalpark Primêre Skool het alles nog altyd vanuit ‘n eko-vriendelike oogpunt benader.
Die skool is met trots deel van die wêreldwye Eko-skole program wat in 56 000 skole in 70 lande toegepas word.

Vaalpark Primêr se personeel het opnuut die besluit geneem dat dinge vir die beter moet verander.
Die beste plek om te begin is by jouself en daarom het hulle die Eko-skole visie – “Be the change you want to see” as hul eie aangeneem.

Die eerste taak wat hul aangepak het, was om ouers en leerders te betrek in ‘n groot opruimingsdag.
Op Saterdag, 16 Oktober het personeel, ouers en leerders Oppermanstraat van ‘n kant af getakel.
Met spesiale Vaalpark Primêr herwinbare sakke in die hand is al die vuilgoed opgetel.

Vaalpark Spar het die ywerige span werkers van water voorsien, terwyl Thearochem handskoene, steekpenne en ys verskaf het.
Vaal Skip het hul dienste aangebied en een van hul “Skips” kom aflaai.
Charmaine Kriek, die skool se skakelbeampte, het laat weet dat hul opruimingsdag nie ‘n sukses sou wees sonder al die rolspelers nie.

“Elkeen het dit wat tot hul beskikking was na die aksie gebring en saam het ons ‘n verskil gemaak,” het Charmaine gesê
Die skool het besluit om in die vervolg elke tweede Saterdag in ‘n maand te gebruik om Vaalpark se strate skoon te maak.
Hulle doen ‘n beroep op elke inwoner van Vaalpark om net voor hul eie huise op te ruim.
As elkeen hul deel bring, sal die dorp eersdaags skoner en netjieser wees. ‘n Plek waarop elke inwoner trots kan wees.

