Laerskool Kollegepark ruim veld op
Laerskool Kollegepark maak 'n verskil.
VANDERBIJLPARK. – Die area rondom een van Vanderbijlpark se oudste laerskole, Kollegepark, het in ‘n rommel hoop ontaard.
Die skool het besluit genoeg is genoeg.

Nadat vyf Honneursstudente van die NWU die skool genader het om te help om die area in Hans van Rensburgstraat langs die skool se parkeerarea op te ruim, het die skool ‘n hele opruimingsveldtog van stapel gestuur.
Ouers, leerlinge, personeel, gemeenskapslede en Afriforum het saam met die vyf studente op Saterdag, 16 Oktober bymekaargekom.

Gewapen met plastiese handskoene, steekstokke, hoede en maskers het hulle vroeg-vroeg al aan die werk gespring.
Die rugbreek werk in die warm son het vrugte afgewerp.

‘n Trokvol gevulde sakke later, het die area weer pragtig skoon en groen daaruit gesien.
Welgedaan Kollegepark. Julle kan met reg trots voel.
Meer foto’s van die opruimingsveldtog is te sien op Laerskool Kollegepark se Facebookblad.

