Maggie – Kunstenaar van kindsbeen af
‘n Middag saam met Maggie van Schalkwyk is ‘n kleinood wat jy versigtig in jou geheue bêre.
VAALPARK. – Die twee Duitse Herdershonde groet eerste. Maggie van Schalkwyk kom rustig nader. Haar glimlag is wyd, haar oë kyk en sien tot in my siel met die groetslag.

Kinderdae in ‘n buurland
“Ek teken al vandat ek kan onthou,” vertel sy. Haar onthou begin in die destydse Rhodesië, vandag se Zimbabwe.
Alhoewel sy in Suid-Afrika gebore is, het die gesin Zimbabwe toe verhuis toe sy een jaar oud is.
Maggie het haar hoërskool loopbaan in Polokwane voltooi, alvorens sy onderwys aan die destydse Normaal Kollege in Pretoria gaan swot het.
Nadat sy ‘n paar jaar skoolgehou het, het sy besluit om terug te gaan Zimbabwe toe, waar sy ook haar gewese man ontmoet het.
“Ek het probeer boer vrou wees en vyf kinders grootmaak”, lag sy. Versomber dan ‘n oomblik, want een van die vyf is oorlede.
Oor hul lewe in die destydse Rhodesië sal sy ‘n boek kan skryf.
Daar was die oorlogsdae wat hul merk gelaat het, maar ook die onthou van mense wat oor kultuur en taalgrense heen saamgestaan en gekuier het.

Kunsdosent in murg en been
In die 80’s het die gesin vir goed teruggetrek Suid-Afrika toe. Die aanpassing was groot, maar deur dit alles het Maggie steeds vrede en groei in haar kuns gevind.
Dit was ook in hierdie tyd wat sy haar as volwasse student ingeskryf het om verder kuns te studeer.
Sy het daarna klas gegee by ‘n kunsskool in Vanderbijlpark, voordat sy as kunsdosent by die VUT aangestel is.
“Dit was ‘n fees. Ek kon die studente se vertroue wen as eerstejaars en dan saam met hulle die pad stap totdat hulle, hul diplomas verwerf het,” vertel sy.

Sy het op 60 afgetree, maar geweet dat sy moet besig bly.
“Dis toe wat ons die afdak en motorhuis in die twee studios omskep het en ek my eie kunsskool begin het.”
Dit was 12 jaar gelede. Vandag staan haar kunsskool steeds sterk.
2020 was ‘n uitsonderlike jaar.
“Ek is in Januarie 2020 Nieu-Seeland toe om my dogter by te staan met die geboorte van haar derde baba. Die plan was dat ek op 4 April sou terug vlieg.”
Die Covid-pandemie het egter haar planne gefnuik en sy kon eers weer in Januarie 2021 terugkeer huis toe.
Alhoewel sy haar honde baie gemis het, het sy haar ekstra tyd in die vreemde ook geniet.
“Ek kon die baba grootmaak en my dogter kon in vrede haar meestersgraad klaarmaak.
“Ek het baie tyd met my ander twee kleinkinders spandeer en ek kon die see deur die venster sien. Dit was ‘n ekstra bonus”, vertel sy en haar oë lag saam.
Haar sketse vang die lewe vas
Net soos in haar kinderdae, voel Maggie steeds dat sy elke dag moet teken.
Sy het ‘n ruk terug begin om vir elkeen van haar kleinkinders (sy het vier in Suid-Afrika ook) ‘n baie spesiale notaboek te maak.
Op elke bladsy doen sy ‘n skets van wat die dag gebeur het, vat dit vas in ‘n limmeriek en voeg ook van daardie dag se nuusgebeure by.
“Ek kan brei en hekel, maar ek is nie ‘n bakker of kok nie,” beduie sy toe sy die sjokoldadekoekies saam met die moerkoffie aangee.
“Ek is ‘n vegetariër, so ek kan die meeste van my kos rou eet”, lag sy.
Terwyl die warm koffiebekers die laatmiddag koue uit ons hande verdryf, filosofeer ons ‘n pad oop deur die pandemie spinnerakke in ons koppe.
‘n Middag saam met Maggie van Schalkwyk is ‘n kleinood wat jy versigtig in jou geheue bêre.
Die talentvolle vrou pas in geen vooropgestelde boksie nie.
Sy is ‘n talentvolle kunstenaar en oopkop filosoof, maar ook ‘n geliefde vriendin, ouma en ma.
‘n Hondeliefhebber met ‘n vonkel in die oog wat dieper kyk en die goeie dinge in die lewe raak leef.
