News

Gesondheidsowerhede ontken Hantavirus-gevalle in Sedibeng

Bewerings oor Hantavirus in Sedibeng is deur owerhede ontken.

SEDIBENG – Gesondheidsowerhede in die Sedibeng-distrik het Woensdag bewerings van plaaslike Hantavirus-gevalle verwerp.

Dit volg ná bewerings dat vier pasiënte vir Hantavirus by ’n plaaslike hospitaal behandel word.

Porcia Gibson, woordvoerder vir Sedibeng Gesondheidsdienste, het egter bevestig dat daar geen gevalle in die gebied aangemeld is nie.

“Nee, daar is geen gevalle in Sedibeng nie,” het Gibson in antwoord op Vaalweekblad se navraag gesê.

Hantavirus is ’n seldsame virus wat deur knaagdiere oorgedra word.

Die siekte is tans in die internasionale kollig ná ’n uitbraak wat met die MV Hondius-passasiersskip verbind word.

Volgens onlangse berigte van die SABC is tot 97 moontlike kontakgevalle in Suid-Afrika geïdentifiseer, met die meeste in Gauteng.

Hierdie kontakte word tans gemonitor in samewerking met die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie).

Gesondheidsowerhede het reeds voorheen aangedui dat daar geen bewyse is dat die siekte plaaslik onder mense in die gemeenskap versprei nie.

Geen gevalle van Hantavirus is egter tot dusver in Sedibeng aangemeld of bevestig nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button