Sakevrou van Meyerton wen pryse met haar gesogte gin
Skaars vier jaar nadat ‘n sakevrou van die dorp begin het om gin te maak, het sy reeds ‘n magdom toekennings ingepalm.
MEYERTON. – Lizl Bornman Giacomozzi, waarskynlik die enigste vroulike ginmaker in die Vaaldriehoek, het onlangs weer ‘n toekenning by die South African Womens Wine and Spirits Awards met haar Comzzi Gin gewen.
Om alles te kroon, is sy boonop as die vroulike distilleerder van die jaar aangewys.
Lizl is baie ingenome met dié prestasies, aangesien daar net vier toekennings tydens die jaarlikse South African Womens Wine and Spirits Awards weggegee word.
Lizl se gin het in 2018 ook ‘n People’s Choice-toekenning gewen.
Sy vertel dat sy skaars twee weke nadat sy haar eerste gin in November 2018 bekend gestel het, hierdie gesogte toekenning ingepalm het.
In 2020 het sy ook ‘n toekenning by die South African Women’s Wine and Spirits Awards gewen.
Hoewel sy nog haar voete in die ginbedryf vind, het Lizl in die paar jaar ver gekom en sy wil graag voortbou op haar sukses. “As dit pap reën moet mens skep,” glo sy.
Sy beraam reeds planne om haar gesogte Comozzi gins na Nederland uit te voer en droom daarvan om dit ook na ander plekke in die wêreld uit te voer.
Haar gin was ook vir die afgelope twee jaar ‘n borg van die SterStatus-realiteitsreeks op VIA (DStv-kanaal 147), ‘n bemagtigingsplatform vir jong vroue. Hier het haar produk blootstelling geniet.
Lizl is ook ‘n stoere voorstander van die bemagtiging van vroue en glo dat die ou dae waar mans alles gedoen en met al die toekennings weggestap het, verby is.
“Daar is ‘n plekkie vir vrouens onder die son,” meen sy. Lizl se suksesse in die ginbedryf het haar geleer dat harde werk vrugte afwerp en dat niks onmoontlik is nie.
Die naam van die gin, wat ‘n gedeelte van Lizl se Italiaanse van “Giacomozzi” bevat, is verkort na “Comozzi”, ‘n korter weergawe wat makliker op die tong rol.
“Dit is ‘n bietjie ‘n mond vol,” vertel sy skertsend.
Lizl en haar familie is waarskynlik die enigste Giacomozzi’s in Suid-Afrika. Die familie kom oorspronklik van die noorde van Italië.
Lizl (haar nooiensvan is Bornman) is getroud met Luigi Giacomozzi, wat saam met sy broer Rino Giacomozzi al die afgelope nege jaar ’n drankwinkel in Meyerton besit.
Lizl, wat voorheen haar eie salon gehad het en naels gedoen het, vertel dat sy aanvanklik in haar kombuis begin eksperimenteer het.
Sy het in Februarie 2018 vir lesse by ‘n ginskool in Stilbaai gegaan en dit het haar geïnspireer om met gin te eksperimenteer.
“Dit was aanvanklik net ‘n stokperdjie en Lizl het hier en daar gin vir vriende en familie gemaak.
Die aanvraag het aanhou groei en kort voor lank het sy haar handelsnaam gestig.
Buiten ginmaker is Lizl ook vrou vir Luigi, ‘n ma van drie kinders, Aiden (20), Liam (15) en Paseka (20), sowel as ‘n bedrewe sakevrou wat betrokke is by die Giacomozzi’s se maatskappy Licqo Beverages wat hul eie alkoholiese handelsname verkoop.
Die gin is by plaaslike drankwinkels te koop, by Spar Tops, Overland en natuurlik by die Giacomozzi’s se eie Model Bottle Store in Meyerton.
Lizl se gin kom nou in drie geure, naamlik “Citrus”, “Spicy” en die nuwe “Liquer: Cuppacino & Hazelnut”.
Volgens Lizl is haar nuwe likeurgin waarskynlik die land se eerste.
“Dit is ‘n soet likeur wat jy vir nagereg kan drink.
“Jy kan dit op sy eie drink of met ys,” verduidelik sy.
Die gins kom in bottels van 750 ml of in kleiner botteltjies van 50 ml vir mense wat net wil proe.
