Local newsNationalNewsNews

Eksamentyd op die PUK

Eksamentyd op die PUK in die vroeë 90's, op selfverklaarde af dae het ons geslaap tot ons honger is en dan geëet tot ons moeg is. #Goeietye

Dis amper weer eksamentyd, eers vir die matrikulante en dan val die ander grade en studente mos so stuk-stuk in.

Verlang ek sommer terug PUK toe. Eksamentyd was ‘n spesiale tyd op die destydse PU vir CHO.

Ons het ure spandeer om te kreun en te kla oor al die baie werk, die genadelose eksamenroosters en ons gebrek aan motivering om agter die boeke in te skuif.

Ek onthou in my eerstejaar moes ek die Maandagoggend Kommunikasiekunde 101 skryf. Lus vir leer was ek glad nie.

Verklaar ek toe die Vrydag, dat ek doodseker is die oordeelsdag is daardie naweek op hande en ek was nie van plan om my laaste naweek op aarde op kommunikasieteorieë te vermors nie.

Hier teen die Sondagaand het ek besef my voorspellings gaan nie werk nie en het ek maar die boeke nadergetrek … en deurgekom!

In eksamentye is koshuiskamers skoongemaak, kaste reggepak en koffiebekers gewas asof dit uit die mode gaan.

Daar is UNO en Rummikub gespeel en selfs die grootste teenstander van sepies het skielik Egoli gekyk.

Een jaar het ek en my kamermaat ‘n skielike passie vir tennis ontwikkel. Nee, nie om te speel nie, wel om te kyk.

Ons het oornag in die grootste André Agassi bewonderaars ontaard en Franse Ope gekyk asof ons lewens daarvan afhang.

In my finale jaar het ek my swart en wit draagbare TV saamgevat Potchefstroom toe.

Kan nou nie onthou of dit was tydens ‘n toetsreeks of eksamen nie, maar daar begin ek (wat op daardie stadium gedink het krieket is uiters vervelig) vyf-dag toetskrieket kyk.

Was nie lank nie, toe ken ek elke speler in wit by name, van Allan Donald en Hansie Cronjé tot by die grote Brian McMillan en Fanie de Villiers.

Dan was daar die keer wat ek besluit het om agter my lessenaar te sit en swot, was net té normaal vir my.

Stilsit kon ek daardie middag net nie. Eindelaas het ek maar met boek in die hand op die bed gaan staan en leer.

Was ook in eksamentye wat die groot honger ons op onmoontlike tye oorval het. Ek en vriendin, Tokkie, het een nag so vreeslik honger geword.

Self het ons niks te ete gehad nie, maar ons was bewus daarvan dat vriendin, Karlien, nie net ‘n groot yskas nie, maar ook ‘n (onwettige) braaipan in haar kamer gehad het.

Gelukkig was sy nog wakker toe ons by haar aanklop. Algou het ons ‘n middernagfees van spek en eiers gehad en al weer skottelgoed gehad om te was.

Een eksamen het die kaaskrul-gier ons beetgekry. Daardie jaar het al my opsommings oranje merke gehad, want ons het geglo ons moes kaaskrulle eet as ons leer.

En dan was daar die slag wat ons te midde van ‘n swotsessie besluit het om te kyk presies hoeveel malvalekkers elkeen in sy mond kan hou sonder om aan die lag te gaan. Prettige chaos.

Miskien was al die streke tussen swotsessies dalk juis wat ons nodig gehad het.

Ten spyte van al die uitstel en ander dinge doen, het ons darem nooit swot heeltemal afgestel nie.

Ons het mekaar ook gemotiveer en seker gemaak elkeen spandeer tyd voor die boeke.

Dit het gewerk, want ieder en elk het binne die voorgeskrewe tydperk graad gevang.

Vir almal vir wie daar nou weer eksamens voorlê, swot wanneer jy moet, maar vat darem ook so nou en dan ‘n breek.

Dertig jaar later onthou mens nie meer die vakfeite nie, maar wel die pret.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button