Klein Mia positief ten spyte van terugslae
Kanker onder kinders is deesdae baie meer algemeen as wat dit eens was. Volgens die Suid-Afrikaanse register van kindergewasse word kanker jaarliks by minstens 1 000 kinders onder die ouderdom van 16 gediagnoseer.
VEREENIGING. – Mia Olivier (9), ‘n jong meisie van Vereeniging is een van talle kinders regoor die wêreld wat deur die siekte geraak word.
Mia se lewe het in Januarie 2020 handomkeer verander toe sy met ‘n kwaadaardige bloedsiekte genaamd akute limfoblastiese leukemie (pre B) gediagnoseer is.
Haar ma, Celeste onthou die dag wat sy haar dogter by haar skool, Laerskool Suikerbos, gaan haal het en die skok wat hul gesin gekry het toe hulle gehoor het sy het kanker.
“Hulle het my van die skool af gebel en laat weet dat sy nie lekker voel nie. Sy was so bleek dat sy skoon geel was die dag wat ek haar gaan haal het. Die dokter het aanvanklik gedink dat sy geelsug het.”
Teen die tyd wat hulle kon vasstel dat Mia leukemie het, was haar beenmurg kankertelling reeds 86% gewees.
Gelukkig kon behandeling feitlik onmiddellik by WITS se Donald Gordon-mediese sentrum begin.
Die behandeling van akute leukemie geskied hoofsaaklik in drie fases.
Tydens die eerste fase word die pasiënt met chemoterapie behandel wat die kankerselle vernietig.
Sodra daar bepaal is dat al die kwaadaardige selle vernietig is, verkeer die pasiënt in ‘n toestand van remissie.
Gedurende die tweede fase ontvang die pasiënt lae dosisse chemoterapie om te verhoed dat maligne selle weer ontwikkel. Die derde fase word die instandhoudingsfase genoem en gedurende hierdie fase word pasiënte deurgaans gemonitor oor ‘n tydperk van ‘n paar jaar om te verseker dat die pasiënt in remissie bly.
Celeste vertel dat Mia se behandeling met ‘n 21 dae isolasieperiode begin het, gevolg deur drie of vier fases intense chemoterapie.
“Mia moet steeds elke drie maande vir ‘n lumbale punksie (‘lumbar puncture’) gaan sodat dokters serebrospinale vloeistof uit haar ruggraat kan verwyder.
“Hulle bestudeer die vloeistof vir die teenwoordigheid van abnormale selle. “Sy moet ook een keer per maand na WITS se Donald Gordon-mediese sentrum gaan vir chemoterapie,” vertel Celeste.
As deel van haar behandeling moes Mia ook ‘n paar keer kraniale bestraling ontvang waartydens dokters seker gemaak het dat daar nie enige kankerselle rondom die brein is nie.
Mia is tans in die instandhoudingsfase van haar behandeling en as alles goed gaan behoort die behandeling vroeg in 2023 voltooi te wees.
Celeste meen Mia was baie gelukkig dat sy gedurende haar behandeling nie in en uit die hospitaal was nie. Daar was ook nie nodigheid vir ‘n beenmurgoorplanting wat dikwels by leukemie pasiënte benodig word nie.
“Teen die tyd wat sy haar eerste fase voltooi het (die eerste 21 dae) kon hulle reeds van al die kankerselle ontslae raak. Ons was baie gelukkig in daardie opsig,” vertel Celeste.
Volgens haar gaan dit tans baie goed met Mia.
“Sy het eerste in haar klas gekom met haar skoolwerk. Ons is baie trots op hoe hard sy werk,” vertel haar ma.
Mia ontvang tuisonderrig deur middel van ‘n aanlynskool.
Die behandeling het Mia se immuunsisteem verswak en sy gaan tans in isolasie skool. “Ons lewe maar elke dag of dit Vlak 5 (van die nasionale staat van inperking) is,” vertel Celeste.
Die Oliviers is ook baie dankbaar vir die ondersteuning van die gemeenskap, plaaslike liefdadigheidsorganisasies en die liefde wat hulle ontvang.
Celeste meen die belangrikste boodskap wat sy wil uitdra is om mense te waarsku om bedag te wees op die vroeë waarskuwingstekens van kanker.
“In ons geval is Mia asimptomaties behandel en die dokters het aanvanklik nie die stukkies van die legkaart bymekaar gesit om te ontdek dat sy aan leukemie ly voor sy eers baie siek geword het nie.”

