Bester wen Winter Fast One-bergfietsren
Shaun-Nick Bester van die Alfa Bodyworks-Titan Racing-fietsryspan het Sondagoggend (24 Oktober 2021) die 80 km-wedren van die Winter Fast One MTB-bergfietsren suid van Johannesburg gewen.
EIKENHOF.- Bester se oorwinning volg skaars ‘n dag nadat hy op Saterdag (23 Oktober 2021) ook die vyfde wedren van die Trail Seeker-reeks by die Sondela in Bela-Bela (Warmbad) gewen het.
Bester is die seun van oud-Comrades-wenner en voormalige Springbok-driekampatleet Nick Bester.
Bester het die uitdagende roete wat heelwat klimme, sowel as tegniese gedeeltes insluit in ‘n tyd van 02:56:53 voltooi en ‘n spoed van 27.1km/h oor die 80 km gehandhaaf.
Andries Nigrini (o.23) van die ProTouch Continental-fietsryspan het ‘n tweede plek behaal in ‘n tyd van 03:00 met sy spanmaat Calvin Beneke wat derde geëindig het in ‘n tyd van 03:11:50.
In die 80 km wedren vir vroue het Danielle Strydom (o.23) koning gekraai. Sy het die roete in ‘n tyd van 03:27:00 afgelê.
Sam Sanders (03:39:10) was tweede en Marlette de Jager (04:12:48) derde.
Die volledige uitslae is beskikbaar by: https://results.finishtime.co.za/




