Polio wêreldwyd amper uitgewis
Polio kan uitgewis word. Gaan na endpolio.org en word deel van die oplossing. #endpolio
VANDERBIJLPARK. – Rotary Internasionaal strewe daarna om polio uit te wis. Deur dekades se harde werk, fondinsameling en bewusmakingsveldtogte kan hul vandag trots sê daar is nog net twee lande in die wêreld waar Polio uitbrake voorkom, naamlik Afghanistan en Pakistan.
Vir die Rotariërs is dit twee lande te veel en daarom hou hul steeds rondom 24 Oktober fondinsamelingsgeleenthede elke jaar.
Op Saterdag, 23 Oktober het die Rotary Klub van Vanderbijlpark ‘n fondsinsamelingsontbyt gehou by Stone Haven on Vaal.
Onder die gaste teenwoordig was Rotex Klub lede, vorige uitruil studente, toekomstige uitruil studente, vriende van Rotary en lede van die Rotary Klubs van Vanderbijlpark en Riverside.

Vorige President van die Rotary Klub van Vanderbijlpark, Jackie van Waveren het die oggend gereël.
Die Rotary Polio Pop is onder ander uitgeloot.
Vorige President Rita Benecke het die geskiedenis van die pop met almal teenwoordig gedeel.
Die Polio Pop word jaarliks onder Rotariërs uitgeloot, en Rita het die pop by ‘n Rotary byeenkoms in Meksiko gewen.
Die pop is weer uitgeloot en die keer het die President van die Rotary Klub van Vanderbijlpark, Celeste Lance, die pop gewen.
Sy het belowe om die pop mooi op te pas totdat dit weer volgende jaar uitgeloot word.
Rotariër Alan Claase het ‘n inligtingsessie aangebied oor Polio en hoe die siekte vir eens en altyd uitgewis kan word.
Poliomyelitis, beter bekend as polio is ‘n hoogs aansteelike, verlammende en potensieel fatale siekte.
Die poliovirus val ‘n persoon se senuweestelsel aan en kan totale verlamming binne ‘n paar uur veroorsaak.
Veral kinders onder vyf jaar kan maklik polio opdoen.
Volgens Britannica.com het die VSA en wes Europa in die 1940’s en 1950’s bykans jaarliks onder polio epidemies deurgeloop in die somer maande.
In 1952 is daar 21 000 gevalle van polio (dis ongeveer 13.6 gevalle per ‘n populasie van 100 000) in die VSA aangeteken.
Aangesien die siekte elke jaar in die somer en herfs uitbrake veroorsaak het, is daar begin om kinders weg te hou van openbare swembaddens, fliekteaters en ander plekke waar groot groepe mense bymekaargekom het.
Uiteindelik is daar in 1955 ‘n effektiewe inenting teen Polio vrygestel.
Vandag kan Polio verhoed word deur inenting en word daar nou hard gewerk om die uitwissing van die gevreesde siekte te bewerkstellig.
Rotary se lede het al wêreldwyd meer as $2.2 miljard en nog meer ure se vrywillige werk ingesit om amper drie miljard kinders in 122 lande teen hierdie virus te beskerm.

