Oud-burgemeester word 90
Mev. Catharina Johanna “Erna” Church, ’n oud-burgemeester van die dorp wat diep spore in gemeenskap getrap het, het op Sondag (24 Oktober 2021) haar negentigste verjaarsdag gevier.
MEYERTON. – Church het die dag by haar huis in Pretoriusstraat spandeer, met haar seun, Charles Francis Church, en dogter, Carien Sunshine, sowel as vriende wat haar kom besoek het.
Church was in die tagtigerjare burgemeester van Meyerton en was ’n sleutelfiguur in die stigting van Huis Meyerton, ’n tehuis vir bejaardes met ’n sentrale ligging naby Meyerton se sakekern, sowel as die pawiljoen by Hoerskool Dr. Malan.
Daar is ook ’n straat – Erna Churchstraat in Uitbreiding 4 – na haar vernoem.
Haar man, dr. Arthur Church, is al 16 jaar gelede aan kolonkanker oorlede en Church ly vandag aan Alzheimer se siekte, ‘n progressiewe neurologiese siekte wat met verloop van tyd lei tot die brein se onvermoë om korrek te funksioneer.
‘n Privaatverpleegster versorg haar by haar huis.


