Hoofsweep Rapport: Wat ‘n tuimeltreinrit!
Raadsheer Phil C. Pretorius, DA-hoofsweep, Midvaal Stadsraad, gee sy weeklikse mening
Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, DA-hoofsweep, Midvaal Stadsraad:
Wat ‘n tuimeltreinrit! (roller coaster).
Die afgelope paar maande was vol ongelooflike ervaringe in Midvaal. Daar was hoogtepunte en laagtepunte in dienslewering wat die nuwe brandweerstasie in Vaal Marina en die skoon en netjiese begraafplase insluit. In 21 jaar het Midvaal berge versit en met behulp van burgemeesters soos Danie McClean, Barry Poggenpoel, Marti Wenger, Timothy Nast, Cliff Hartman en Bongani Baloyi kon Midvaal groei tot die juweel wat JY nou besit.
Ons het Heineken en Ferrero Rocher na Midvaal gebring en die R59 Korridor begin, ons het begin om die informele nedersettings te formaliseer met formele dienslewering van paaie, water en elektrisiteit sodat die regering vir die mense huise kan bou, ons het toerisme bevorder en die jeug opgebou, ons het amptenare met die regte vaardighede aangestel en verantwoordelik gehou vir hulle werk, ons het nagte deur geswoeg en gesweet om die finansies en begrotings te laat klop en eties op te tree, ons het prosesse geïmplementeer om administrasie te verbeter en die armlastiges te help, ons het geval en seergekry maar opgestaan en die paaie van ‘n hoek af begin herstel, waterpype begin vervang, rioolaanlegte opgegradeer, reservoirs opgerig, substasies gebou, sakekerns opgegradeer, parke geskep, gemeenskapsentrums gebou, sportgeriewe geskep en verbeter, straatmakieties gehou, Globetree gehou, die METRO afgeweer en die beste brandweer in die Vaal gebou, ens. ens. ens.
Dit beteken geensins dat alles net hunky-dory is nie.
Ek is die eerste een om te erken dat niemand perfek is nie en daar altyd ruimte is vir verbetering, dit is logies.
Daar is egter slegte kommentaar oral op sosiale media oor aangeleenthede wat geensins binne ‘n plaaslike regering se mandaat val nie en waaraan Midvaal Munisipaliteit net mooi niks kan of mag doen nie.
Ek skryf dit maar toe aan onkunde en politieke moddergooiery en die oplewe daarvan in hierdie “silly season” aan die plaaslike verkiesing-sindroom. Skielik is die kat se kleintjies, die land se behuisingsprobleme, die droogte, geweld en die pandemie alles die DA se skuld en verantwoordelikheid.
Ek weet nie wat is erger nie: die feit dat iemand dit versprei of die feit dat mense meeste daarvan glo nie.
Midvaal is egter baie oopkop oor diensleweringsprobleme wat ondervind word en waarby hulle nie so geredelik uitkom nie.
Ek dink aan probleme soos die sny van die wye grasvelde en hantering van die Municipal Finance Management Act (MFMA) wanneer dit by die herstel van ons enigste verkeerslig in Midvaal kom. Al is die probleme in Midvaal baie skaars, sal enige een iets onder ‘n klip kan uitgrou as hy daarvoor gaan soek. Soms wil ek selfs my eie hare uit my kop trek oor die rooi kleefband m.b.t. dienslewering en verwag eerder die rooi mat.
Ek word telkemale self terug aarde toe geruk as ek die hoepels sien waardeur plaaslike munisipaliteite se personeel en departemente moet spring om DINGE GEDOEN TE KRY.
Vir daardie rede haal ek my hoed vir julle af, al die werkers van Midvaal Munisipaliteit.
Die persoonlike assistente en die klerke, die regsdepartement en die waterwerke, die sekuriteitsbeamptes en die inspekteurs, die skoonmakers en die ingenieurs. Ek salueer julle.
Die politici se termyne verval maar die personeel van die munisipaliteit moet met hulle eie politieke oortuigings die werk van ‘n regerende party uitvoer en elke vyf jaar nuwe bedelings trotseer.
Julle is die superhelde van plaaslike regering en daarom is ek trots Midvaal. Gaan stem, dit is jou reg. Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

********************************************************************************************************
