Vaalpark staan saam, werk saam
Die gemeenskap werk saam in Vaalpark en die resultaat is 'n skoner en veiliger dorp vir almal.
VAALPARK. – Arrie Coetzee van Public Eye het laat weet dat die fondasie vir die eerste kameratoring in Vaalpark gelê is, nadat genoegsame fondse ingesamel is en die nodige toestemming verkry is.
Die toring word by die Minaar/Paardeberg kruising opgesit. Die landswye staking in die staal bedryf het weliswaar die voltooiing van die toring vertraag, maar ten minste is die toerusting wat op die toring gemonteer gaan word reeds bekom.
Dit beteken dat Belrex Innovations dadelik met 24 uur observasie sal kan begin sodra die toring opgerig is.
Public Eye sal ook toegang tot die kameras hê. Vir eers net deur ‘n selfoon toep maar later sal hul Beheerkamer in die Tharinasentrum al die nodige toerusting hê om direk met die kameras op die torings te skakel.
Daar word beoog om drie torings op te sit. Die eerste sal op die hoek van Minnaar- en Paardebergstraat wees, die tweede op die hoek van Olivierhoek en Paardeberg en die derde een net so bietjie terug in Paardebergstraat.
Arrie het gesê: “Die drie torings met kameras wat opgerig gaan word, gaan die ruggraat vorm van kameras wat in die toekoms by strategiese punte in die dorp opgesit gaan word. Saam sal ons seker maak dat Vaalpark misdaadvry bly.”
Hy het sy dank betuig aan almal wat reeds bydraes gemaak het om die kamera torings op te sit en gevra dat inwoners en besighede sal voortgaan om hierdie gemeenskapsprojek te ondersteun.
Indien individue, organisasies of maatskappye tot die projek wil bydra, kan hul vir Denise kontak by 083 304 7090.
Vaalparkers is nie net veiligheidsbewus nie, hulle werk ook saam om hul dorp skoon en netjies te kry.
Vaalweekblad het onlangs berig van die Primêre Skool Vaalpark wat ‘n Saterdagoggend opsy gesit het om Oppermanstraat op te ruim.
Die skool se goeie inisiatief is opgevolg deur inwoners en Ram van DIY Tar wat die naweek van 23 Oktober slaggate in Keerombergweg reggemaak het.
Die span het 74 sakke teer gebruik om die straat weer rybaar te maak.