Vryheidsfront Plus se Corrie Peypers wil munisipaliteit regruk
Corrie Peypers is die VF Plus se burgemeeterskandidaat vir die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit.
MEYERTON. – Die DA se nasionale leier, John Steenhuisen, het die ander dag vir die mense van Sicelo vertel dat die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit ‘n “skitterende baken van uitnemendheid” in ‘n “see van verwaarlosing, wanhoop en korrupsie” is.
Corrie Peypers, die Vryheidsfront Plus se burgemeesterskandidaat vir die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, stem nie met hierdie stelling saam nie.
“Vir een ding is Steenhuisen besig om nonsens te praat, want hy weet nie wat hier aangaan nie!”
“Ons dorp is nie in so ‘n great toestand as wat mense dink dit is nie. Hier is baie fout in ons munisipaliteit,” sê Peypers skepties.
Die feit dat die twee mees senior poste van munisipale bestuurder en hoof finansiële beampte nie gevul is nie, dui volgens Peypers op groot onderliggende probleme in die munisipaliteit.
Dit lei volgens hom ook daartoe dat mense sonder die nodige kwalifikasies aangestel word en dat daar geen kontrole toegepas word nie.
“Ons rioolstelsel is 50% oor sy kapasiteit. Hoe meer ek vir hulle verduidelik dat as ‘n glas vol is en jy gooi nog ‘n helfte van ‘n ander glas in die glas, wat gaan gebeur? “
Dit gaan mos uitloop!”
“Ons sit met R260 miljoen se aanleg wat Rand Water oorgeneem het en die munisipaliteit oefen nie druk op hulle uit nie.
“In Riversdal loop die riool deur die strate. Die grondpaaie word nie geskraap nie. Gras word nie gesny nie,” brei Peypers uit.
“As dit ‘n voorbeeld is van ‘n goeie munisipaliteit, weet ek nie wat is ‘n slegte munisipaliteit nie,” sê Peypers.
Met hom as burgemeester sal hy onmiddellik ‘n ‘oopdeurbeleid’ by die munisipaliteit instel.
Volgens hom luister raadslede nie vir die mense nie.
“‘n Amptenaar durf ook nie teen ‘n raadslid gaan nie, dan is hy weg,” vertel Peypers.
“Die mense het nie vir die mense gewerk nie. Toe ek in die raad gekom het, was almal te belangrik.
“Niemand kon vir jou ‘Corrie’ sê nie, dit moes raadsheer en dit en dat wees.
“Jy kan nie met hulle praat nie. Daar is eenvoudig nie ‘n oopdeurbeleid nie,” sê hy.
Dan is die belasting volgens Peypers ook heeltemal te hoog met inwoners wat te veel vir dienste betaal wat hulle nie kry nie.
Gedurende sy politieke loopbaan van die afgelope dekade het daar ‘n klomp kontroversiële dinge gebeur waarby hy betrokke was.
Peypers het 1988 vir die eerste keer in die destydse Meyerton Stadsraad gedien toe hy as kandidaat vir die destydse Konserwatiewe Party ingestem is.
In die 2011 verkiesing het hy as VF Plus-raadslid na die raad teruggekeer.
Peypers erken dat hy nie een is wat wegskram van konflik nie, maar voeg by dat hy nie by ‘n geveg betrokke sal raak sonder dat hy nie sy huiswerk gedoen het nie.
“Ek maak baie seker van my feite, want as ek in die kryt in gaan, wil ek alles van my opponent af weet.
“Ek skram nie weg nie. Ek is nie so gebou nie.”
Hy was al in hewige politieke gevegte betrokke – eers met die voormalige burgemeester, Martie Wenger, en toe met haar opvolger, Timothy Nast.
Peypers vertel dat sy geveg met Wenger gegaan het oor tenders wat onreëlmatig toegeken is, die manier waarop die dorp bestuur is en die manier wat die munisipaliteit mense hanteer het.
Sy geveg met Nast het volgens Corrie gegaan oor die manier wat tenders aan diensverskaffers toegeken is en die manier waarop dagvaardigings uitgereik is.
Volgens Peypers het die Vryheidsfront van 4% tot 30% gegroei.
“Ons verwag hierdie jaar beter groei en hoop dat ons meer raadslede in die raad kan kry sodat ons druk op die DA-beheerde raad kan uitoefen.
Die VF+ hoop vir drie raadslede in die raad.
Interessante feite oor Corrie Peypers:
*Hy is gebore en getoë in Roodepoort aan die Wes Rand.
*Hy het aanvanklik drome gehad om ‘n onderwyser te word en het ná matriek onderwys aan die Goudstad Onderwyskollege studeer, voordat hy besluit het om eerder in Alberton klubrugby te speel.
*Hy was op sy dag ‘n kranige flank wat op provinsiale vlak rugby gespeel het.
*Hy was op ‘n stadium ‘n aankoper vir ‘n maatskappy, het sy eie boubedryf en grondverskuiwingsmaatskappy gehad en boer ook met varke en turksvye.

