Local newsNewsNews

Die verlede haal die hede in

Party onderwysers het net 'n groter impak as ander ... Dankie aan onse Juffrou Annatjie Strydom.

Ek het haar aan haar stem en aan haar lag herken.

Met die eerste gedig wat sy voorlees het meer as drie dekades weggeval.

Die vroue van die leesgroep het uit my visie verdwyn, ek was terug op skool.

Daardie jare was sy nog mev. Annatjie Strydom, vandag is sy dr. Strydom. Maar vir my sal sy altyd juffrou bly.

Van standerd 6 Afrikaans tot by Engelse letterkunde in matriek was sy daar om ons aan te praat, aan te por en ons verbeelding vrye teuels te gee.

Dit was sy wat Shakespeare se Tempest voor ons oë lewe gegee het. Verby die moeilike ou Engels die komedie uitgelig het.

Sy was die dryfveer agter Hoërskool Vanderbijlpark se drama suksesse in die 80’s.

In standerd 9 was ek deel van die agter-die-skerm span van Faan se Trein wat daardie jaar besonder goed gevaar het in die ATKV kompetisie.

Ek onthou nog die slag in standerd 6 wat ek vinnig iets aan ‘n vriendin in klastyd gefluister het en die einste juffrou Annatjie se vermaning: “Getruida Bruinette praat jy alweer?”

Ek het maar gedwee die skulderkenning gegee, “ja juffrou.”

Donderdag, 21 Oktober het ek die voorreg gehad om weer na ‘n lesing van onse juffrou Annatjie te luister.

Dit was by die Vanderbijlpark Leeskring se maandelikse byeenkoms en sy het gepraat oor die liefdespoësie van toeka tot nou.

Aantekeninge uitgedeel in ‘n handskrif wat dadelik ou herinneringe aan opstelboeke en letterkunde geskrifte opgeroep het.

Op 80 hou sy steeds haar gehoor in die holte van haar hand.

In ‘n oggend wat te vinnig verbyglip neem sy ons op ‘n reis van liefdespoësie deur die eeue.

Beleef ons saam met haar hoe die digters na lange jare uit die sonnet borsrok breek, en vrylik oor emosies praat.

“Die nuwerwetse digkuns het nie ‘n grondwet nie,” som sy dit gepas op.

Vandag se digters breek elke reël in die boek, maar die ritme van poësie het die aanslae van die tyd oorleef.

Hoendervleismooi lees sy vir ons Adam Small se What abou’ de lô?

Hoor ons die ritme deurslaan in Bibi Slippers se Punt.

Boerneef bêre sy vir laaste.

“Die berggans het ‘n veer laat val

van die hoogste krans by Woeperdal

my hart staan tuit al meer en meer

ek stuur vir jou die berggansveer

mits dese wil ek vir jou sê

hoe diep my liefde vir jou lê.”

Binne ‘n oogknip is die oggend verby.

Ek groet met ‘n glimlag, maar in my oë blink ‘n traan.

My skooljare is ‘n leeftyd terug.  Ek wil die nie oor hê nie.

Maar dit was goed en dit was lekker om weer ‘n kosbare uur in onse juffrou Annatjie se klas te kon spandeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button