Selfdoodpoging: ‘Hy was emosioneel op ‘n baie slegte plek’
"Ek as Suid-Afrikaner wat lief is vir my medemens, sal so iemand help en ‘n regverdige kans gee om dinge reg te maak"
Dit is vanoggend ‘n week gelede dat ‘n jong man van die dorp op ‘n brug oor die R57 tussen Sasolburg en Vanderbijlpark van ‘n brug wou afspring omdat die lewe se probleme te veel vir hom geword het. “Ons volk moet saamstaan om mekaar in sulke omstandighede te help, eerder as om mense te kritiseer wat nie ‘n ander uitweg as selfdood sien nie,” sê Stephen Venter.
Jong man wat van brug wou spring, betyds gehelp
VANDERBIJLPARK. – Min motoriste wat Saterdagoggend, 23 Oktober, op die R57-snelweg tussen Sasolburg en Vanderbijlpark gery het, was bewus van die emosiebelaaide toneel wat besig was om op ‘n brug oor die pad af te speel, waar ‘n jong man gedreig het om af te spring.
Die drama het vroeg die oggend begin toe motoriste ‘n man van in sy twintigs in verdagte omstandighede op die rand van die brug, wat naby Stonehaven-on-Vaal oor die R57 gaan, gesien het. Hulle het vermoed dat hy van die brug af voor voertuie wou inspring om ‘n einde aan sy lewe te maak.
Nita-Chanelle Sonnekus was een van die eerstes om te stop en die man te vra of alles reg is. “Ons het mooi met hom gepraat maar hy het geskreeu dat ons moet ry of hy spring. Dit was baie sleg. Ek het nie geweet wat om te doen nie, want bly jy en probeer help, spring hy dalk. Ek het so magteloos gevoel. Ons het dit dadelik gerapporteer en ek het net begin bid. Ek is so dankbaar vir die Vader se genade en dat daar betyds hulp was,” sê sy.
Mnr. Stephen Venter, wat bekend is vir sy werk by die gemeenskapsorganisasies Boere-droogtehulp SA en Bring Hoop Vaaldriehoek, is dadelik na die toneel om met die koördinering te help nadat hy die noodoproep ontvang het.
Verskeie mense, soos mnr. Gert Botha, het gehelp om die verkeer te beheer en Eugene Radyn van Battery Centre Sasolburg het toerusting verskaf om die brugpad af te sper. Me. Marlene Enslin van Sasolburg het intussen begin om rustig met die man te gesels en hom te probeer kalmeer. Netcare se personeel het ook opgedaag en die berading by haar oorgeneem.

Na byna twee ure se gespook het die Netcare-span die man van die brug se rand af weggekry en na die psigiatriese afdeling van ‘n plaaslike hospitaal vervoer vir evaluering en waarneming. Hoewel sommige Facebook-gebruikers na aanleiding van die voorval kwaai kritiek uitgespreek het oor mense wat selfdood oorweeg, was daar oorwegend empatie met die man.
“Die jongman was emosioneel duidelik op ‘n baie slegte plek en ek as Suid-Afrikaner wat lief is vir my medemens, sal so iemand help en ‘n regverdige kans gee om dinge reg te maak. Die verskil kan by elkeen van ons begin om na mekaar om te sien. Ons moet ons verskille eenkant toe skuif en na die groter prentjie kyk. Daai prentjie is om ons taal en volk te beskerm en mekaar te help,” sê Venter.


