Wêreldtitel wink vir Vaal se Mark
Die Whelans vlieg op 2 November Spanjé toe. Mark neem op die 7de deel aan die wêreldkampioenskappe.
VANDERBIJLPARK. – Verlede jaar het Mark Whelan nog gesê hy is klaar met liggaamsboukompetisies, maar nou is hy op pad Spanjé toe om Suid-Afrika by die wêreldkampioenskappe te gaan verteenwoordig.
“Ek het weer begin omdat Danelle ‘n gesonde dieet begin volg het en besluit het om vir haar eerste kompetisie te staan in November 2020,” lag Mark.
“Ons was uitgenooi om as ‘n paartjie in die Arnold Classic Africa wat in Mei sou plaasvind, te staan, maar dit is toe weens Covid-19 uitgestel.
“Teen die tyd wat dit uitgestel is, was ons reeds voorbereid en toe het ons maar aangegaan.”
Danelle en Mark is op 27 Maart vanjaar getroud en hul eerste huweliksjaar was sover ‘n opwindende, maar fisies-uitputtende een.
In Augustus het albei aan die Sunfest Johannesburg deelgeneem, waar Danelle haar afdeling gewen het en Mark ‘n tweede plek behaal het.
In September was dit tyd vir die provinsiale kompetisie in Johannesburg.
Hier het Mark met die louere weggestap, terwyl Danelle silwer in haar afdeling gekry het. Kort op hierdie kompetisie se hakke het die nasionale liggaamsboukampioenskappe aan die begin van Oktober gevolg.
Mark het skoonskip gemaak en nie net die Classic Physique gewen nie, maar ook die algehele titel as Suid-Afrika se liggaamsboukampioen verower.
‘n Titel wat hy al sedert 2019 dra toe hy ook gewen het. Die kompetisie het weens Covid nie in 2020 plaasgevind nie.
Danelle het vir die heel eerste keer aan die nasionale kompetisie deelgeneem en het ‘n vyfde plek behaal.
“Ons was ook die enigste getroude paartjie waar die man en vrou aan die SA’s deelgeneem het,” vertel Danelle trots.
‘n Week later was hulle weer gereed vir kompetisie. Hierdie keer by die Sunfest in Kaapstad waar Mark en Danelle eerste plekke in hul onderskeie kategorieë verower het.
Nog is dit einde niet. Mark is tans hard aan die oefen vir die wêreldkampioenskappe. “Hy is al so moeg, hy moet konsentreer om asem te haal,” vertel Danelle.
“Al wat ek op die oomblik doen is eet, gym en slaap. Wat ek ook al eet word dadelik in die gym verbrand,” sê Mark en onderdruk ‘n gaap.
Die Whelans vlieg op 2 November Spanjé toe. Mark neem op die 7de deel aan die wêreldkampioenskappe en daarna gaan hul ‘n welverdiende vakansie in Spanjé geniet.

