NewsSport

‘Ek is klaar met padritte,’ sê sportiewe vrou na ongeluk

"Dit het gevoel of ek in stadige spoed kon sien hoe die randsteen nader kom..." - sê Gerda dos Santos

SASOLBURG. – ‘n Bekende fietsrygeesdriftige van die dorp, mev. Gerda dos Santos (52), pak nou ‘n lang pad na herstel aan nadat sy op 3 Oktober deur ‘n voertuig van haar fiets afgestamp is.

Hoewel sy geen breuke in haar arms of bene opgedoen het nie, is haar gesig, neus en linkeroog so erg beseer dat sy in die afgelope weke reeds twee keer plastiese snykunde moes ondergaan en nóg operasies lê voor.

Gerda, wat drie jaar gelede aan die Argus-fietstoer in Kaapstad deelgeneem het, het die oggend van die ongeluk agter haar man, Frank, tot naby Parys gery en was reeds weer amper by hul huis in Sasolburg toe sy skielik ‘n harde stamp voel en deur die lug trek.

“Dit het gevoel of alles in stadige spoed gebeur. Ek kon sien hoe die randsteen nader kom voordat ek dit getref het,” sê sy. “Ek het reg op my gesig geval en kon voel hoe my neus en wang oor die randsteen skuur.”

Frank, wat so 4 meter voor haar gery het, het die slag gehoor, omgekyk en gesien dat sy vrou in die pad lê. Die geskokte voertuigbestuurder het dadelik gestop, saam met verskeie ander motoriste wat ook hulp wou verleen.

“Ek was heeltyd by my bewussyn en in ondraaglike pyn. Ek kon hoor hoe die bestuurder aanbied om my hospitaal toe te neem, maar Frank het gekeer en gesê daar sal eers vasgestel moes word hoe erg ek beseer is. Bloed het uit my gesigwonde gestroom en terwyl ek my oë met my hande toegedruk het, het ek my ledemate een-vir-een beweeg om te voel of daar enige breuke is. Buiten my gesig was my linkerskouer baie seer.

“Ondanks die bestuurder se eie skok het hy my na die Vaalpark-hospitaal se ongevalle-afdeling geneem terwyl my man op die ongelukstoneel agtergebly het om reëlings te tref dat die wrak van my fiets kom haal word. By die hospitaal is ek vir x-strale gestuur en die personeel het my gesigwonde skoongemaak. ‘n Deel van my linkerooglid was los en weggeskeur en my neus was ook erg beseer. Die ongevallepersoneel het gesê dat hulle niks verder vir my kon doen nie en het aanbeveel dat ek na Mediclinic Vereeniging moes gaan, waar ‘n uitstekende plastiese snykundige, dr. S.E. Phiri, my begin behandel het,” sê sy.

Gerda was ses dae in die hospitaal waartydens twee operasies gedoen is, onder andere om ‘n wond onder haar oog te heg en ‘n veloorplanting te doen op die gedeelte van haar linkerooglid waar die vel heeltemal weggeskeur was.

Sy het nog heelwat steke rondom haar oog, oor haar neus en ook voor haar regteroor, waar vel geöes is vir die veloorplanting. ‘n Opvolgoperasie sal oor ‘n paar weke gedoen moet word om haar ooglid, wat nie kan toemaak nie en wegstaan van haar oog af, reg te stel.

“Die ergste is verby en dis glad nie meer seer nie. Baie dankie aan my familie en vriende wat my absoluut deur hierdie tyd gebid en gedra het. Elke boodskap, blom, eetgoed en kuier by die huis word so baie waardeer.

“Ek vertel my verhaal om fietsryers meer bewus te maak van die gevare. Maak seker julle het altyd jul volle fietsry-uitrusting aan. Ons fietsryers moet so ongelooflik versigtig wees. Hierdie skrik was heeltemal te veel vir my. Ek is klaar met padfietsry. Dit is net nie die moeite werd nie. Ek het twee pragtige kleinkinders wat ek wil sien grootword,” sê Gerda. Sy wil egter aanhou bergfiets ry, maar gaan veiliger oefenplekke soek en hoop om toestemming te kry om byvoorbeeld in die Ekopark te mag ry. Gerda, ‘n werknemer van Sasol, was tot verlede week afgeboek, maar is nou weer terug op haar pos.

 

Gerda dos Santos direk na die ongeluk: Sy het ernstige beserings aan haar linkeroog, neus en wang opgedoen.

 

Foto onder: Gerda dos Santos voor die ongeluk

Foto onder: – Gerda na haar eerste behandeling

Foto onder: Hoewel Gerda reg op haar gesig geval het, het sy heeltyd haar bewussyn behou.  “Dit was die seerste pyn wat ek nog ooit ervaar het,” sê sy.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Foto onder: Gerda kan weer glimlag en op ‘n fiets sit, maar sy wil nooit weer aan padritte deelneem nie. Voortaan gaan sy net in die veld met haar bergfiets ry.

  **********************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button