Local newsNewsNews

Hou hare hou!

Die ding wat so ‘n maand gelede kop uitgesteek het, is nou vir my die aardigste.

Covid-19 – na al die maande ken almal die simptome. Waaroor daar nie so baie gepraat word nie, is die gevolge van die ellendige siekte.

Ek het gedink ek is ontslae van die virus en sy geite toe ek einde Julie uit die hospitaal gestap het. Toe nou nie ….

Die blyk toe ek het Lang Covid. Party sê Lang Covid Sindroom, maar ek weet nou nie van droom nie, dis meer ‘n nagmerrie.

Die simptome wissel in intensiteit, maar elkeen het my daaglikse metgeselle geword.

Ten eerste is daar Die Moegheid. Hoofletters. Ek kan nog heel goed aangaan en dan is dit so al asof iemand my afknoppie druk.

Ek is seker daar begin ‘n “battery laag” boodskap op my voorkop flits.

Hand aan hand saam met Die Moegheid is iets wat die Engelse brain fog noem.

Wat sal dit nou in goeie Afrikaans wees? Dis meer as net ‘n mistigheid wat op jou denke toesak.

Dis so asof mens se brein vol spinnerakke is en die eenvoudigste goed skielik in moeilike dink ontaard.

Amper soos destyds toe die wiskunde juffrou die meetkunde driehoeke op die swartbord geteken het en by my wou weet wat sien ek?

Toe sê ek ‘n pendeltuig wat gereed maak om op te styg maan toe. Die deurmekaar-dink-brein laat mens simpel goed doen.

Nou die annerdag was ek op pad na ‘n funksie by ‘n plek waar ek al telkemale in my lewe was.

Maar, die oggend het die mis weer donker in my brein kom lê en so bly ek links as ek moet regs en ek draai amper in die Vrystaat voor ek moed opgee en huis toe ry.

En ja, dan is daar nog die hoofpyn, seer spiere, en dies meer. Maar die ding wat so ‘n maand gelede kop uitgesteek het, is nou vir my die aardigste.

So min of meer twee maande nadat die verpeslike virus my in die intensiewe eenheid gehad het, begin my hare mos uitval.

Eers net so hier en daar een wat rondlê. ‘n Paar ekstra hare op my borsel. Een of drie op my klere. Toe tel dit spoed op.

Nou se dae sê my ma ‘n mens kan amper nog ‘n Gerdatjie maak met al die hare wat ons uitvee.

Gelukkig het ek dik hare, so net my haarkapper kan werklik die verskil sien. En ek natuurlik.

Met die hare wat waai het ek begin nalees en raad vra.

Boererate sluit in enige iets van sout en eier in sjampoe meng tot ‘n oorryp piesang of koffie aan jou hare smeer!

Ek het gelees, geglimlag en dit verby my laat gaan. Die apteker se raad van foliensuur tablette word nou ingespan, saam met my haarkapper en my een oom se raad van plasenta.

Laasgenoemde kom in bottels voor wat jy op jou hare spuit.

Ek het eers daarteen geskop, maar toe ek die hoeveelste handvol nat hare uit die stort moes optel, en ek gril juis so baie – het ek maar ‘n bottel loop koop.

Werk dit? Nee, ek weet nog nie. Ek het Oom Google gevra en hy sê dit kan tot nege maande duur alvorens jou hare na trauma of siekte en stres normaliseer.

Daar is dus lig op die horison. Nou moet ek net raad kry vir die Moegh …. Zzzzz.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button