31 Sketse vir Inktober
Charlotte Bresser het Inktober nou al drie jaar in 'n ry gedoen.
In 2009 het ‘n Amerikaner, Jake Parker met Inktober begin. Die gedagte was om ‘n uitdaging vir homself daar te stel om 31 tekeninge in ink te doen.
Hy wou sy vaardighede om in ink te skep slyp en ook positiewe teken gewoontes skep. Inktober het algou vlam gevat en vandag inspireer dit kunstenaars wêreldwyd.

Die reëls vir Inktober is eenvoudig. ‘n Lys met 31 woorde word elke jaar vrygestel en die gedagte is dan om een tekening per dag te doen.
Die tekeninge word gewoonlik op sosiale media geplaas. Alhoewel, Jake Parker op sy webtuiste sê mense kan hul tekeninge selfs net op hul yskaste plak.
Die gedagte is net dat elkeen se kunswerke met ander gedeel moet word. In die Vaaldriehoek het Inktober ook al goed nessgeskop.

Charlotte Bresser van Vaalpark sê sy het nou haar derde Inktober in ‘n ry klaargemaak.
Die lys met woorde wat in daaglikse tekeninge omskep moet word is baie uitdagend en kan nogal vir kopkrap sorg.
Hierdie jaar was daar woorde soos tick, leak, splat en collide op die lys.
“Ek is ook ‘n voëlkyker, as ek vasbrand met ‘n prompt soos wat hulle dit noem, dan gaan kyk ek watter voëltjie ek kan gebruik vir die tekening,” lag sy.
Charlotte sê sy het ‘n baie bedrywige Oktober agter die rug en dit was omtrent ‘n uitdaging om al 31 sketse te doen.

Sy het weer met Birdtober ook begin, waar mens ‘n voorgeskrewe voël per dag teken, maar die jaar was daar net nie genoegsame tyd vir beide uitdagings nie.
“Ek het hier by die vyfde maar halt geroep met die voëls die jaar,” sê sy.
Charlotte is ‘n bekende kunstenaar in Vaalpark wat op haar dag as kunsdosent gewerk het en eksaminator was in die Vrystaat.
Sy het ook al verskeie uitstallings gehou.
Sy verkies om in waterverf te werk of akriel en dan geniet sy dit om te teken.
“Mense vra altyd hoekom doen ek nie “regte” skilderye in olieverf nie, maar ek hou nie van olie nie. Ek is hopeloos te ongeduldig. Ek kan nie wag vir die verf om eers droog te word voordat ek ‘n skildery kan klaarmaak nie,” vertel sy.
Sy en haar man, Hans, gaan gereeld op reis. Charlotte vang hierdie reise vas in waterverf en ink sketse.
Elke skets kry ook ‘n stukkie handgeskrewe herinnering van die dag by.
So bou sy unieke versamelings van hul tye saam.
Sy hoop om in 2022 weer haar kunsgroep by haar huis te verwelkom nadat die pandemie hul byeenkomste in 2020 tot ‘n halt geroep het.
