Dokter neem glo eie lewe by spreekkamer
Daar was Dinsdagoggend (9 November 2021) ’n polisieverteenwoordigheid by die spreekkamer van dr. Freek van der Walt, ’n dermatoloog van Drie Riviere, in Orwellstraat.
VEREENIGING. – Daar word beweer dat hy sy eie lewe geneem geneem het.
Vaalweekblad het gaan ondersoek instel op toneel waar ons polisielede en ’n voertuig van die polisie se forensiese patologie-eenheid aangetref het.
Die polisie het Vaalweekblad se verslaggewer versoek om die sypaadjie voor die perseel te verlaat en gedreig dat slegte goed sou gebeur indien daar foto’s geneem word of ‘n polisielid op ‘n foto verskyn.
Dr. Jeanne-Marie Rabie, ’n kollega van Van der Walt, was ook op die toneel maar wou nie vir Vaalweekblad vertel wat gebeur het nie.
“Ter wille van die gesondheid van die familie versoek ek u nou om die perseel te verlaat,” het sy gesê.
Volgens kapt. Fikile Funda, woorvoerder vir die polisie in Vereeniging, is die polisie besig met ‘n geregtelike doodsondersoek nadat hulle die 63-jarige dokter Dinsdagoggend dood op die vloer van sy spreekkamer aangetref het.
“Hy is op die vloer aangetref met ’n koëlwond aan sy kop en ‘n pistool langs die liggaam.”
“Die omstandighede rondom die voorval vorm tans deel van die ondersoek.”
“Die liggaam is na ‘n staatslykshuis geneem vir ‘n nadoodse ondersoek en die vuurwapen is ingeboek,” sê Funda.
Mignon van der Walt, die oorledene se dogter, het Vaalweekblad gevra om die familie spasie te gee in ‘n tyd van rou en hartseer.
