Local newsNewsNews

Wynraaisel met behulp van sintuiglike waarneming en kennis opgelos

Lede van die Vat Tappers-wynklub van Vanderbijlpark moes Dinsdagaand (2 November) sintuiglike waarneming en wynkennis inspan om te probeer bepaal watter wyn vir hulle geskink is.

Niemand het geweet wat die geheimsinnige sewe wyne is wat die aanbieder Carl Coetzee in koerantpapier verdoesel en later geskink het nie, maar van die gesoute wynproewers het wel ’n paar idees gehad…

Vir sy aanbieding het Coetzee drie witwyne en vier rooiwyne gekies en dit met ou Vaalweekblaaie toegedraai om dit ’n verrassing te hou vir die gaste.

Daar is behoorlik gekyk, geruik, geproe en kopgekrap by die Portugese klub in SE1 in Vanderbijlpark waar die wynklub die aand vergader het.

Eers aan die einde van die aand is die etikette openbaar.

Die witwyne

*Die eerste wyn vir die aand was ’n 2019 Jordan Chamelion Sauvignon Blanc-Chardonnay versnit. Die wyn – wat deur die wynmaker as ’n wyn met ’n “verkleurmannetjie-agtige” karakter beskryf word – het die koppe behoorlik aan die krap gehad. Was dit ’n Sauvignon Blanc of dalk ’n Chardonnay, of dalk beide? Bitter min kon dié een heeltemal reg raai. Daar was beslis reuke van Kaapse groenvye gevolg deur  die smaak van pomelo en waatlemoen te bespeur.

*Die tweede witwyn vir die aand was ’n 2017 Rijks Touch of Oak Chenin Blanc met die reuk van varsgeskilde appel en ’n tikkie nartjie en suurlemoen. Die smaak van die wyn is baie kompleks maar tog goed gebalanseerd. Volgens die wynmaker word die wyn se smaak verbeter deur dit in eikehout wynvate te stoor.

*Die derde en laaste witwyn vir die aand was ’n Chardonnay in ’n ongemerkte bottel.

Rooiwyne

Nadat die witwyne afgehandel is. Het die rooiwyne aan die beurt gekom.

*Die eerste rooiwyn vir die aand was ’n 2019 Neil Ellis Cabernet Sauvignon-Merlot versnit uit die Stellenbosch-omgewing wat in ’n tipiese Bordeaux-styl saamgevoeg is;

*Die tweede rooiwyn vir die aand was ’n geurige 2019 Bellevue Malbec wat soos bessies, kersies, pruime, roosmaryn, mint en fynbos ruik en die smaak van ryp kersies, fynbos en pruime het. Laasgenoemde wyn word vir 12 maande in Franse eikehout wynvate verouder om die smaak te verbeter. Dit was beslis die skrywer van hierdie berig se gunsteling!

*Die derde en tweede laaste rooiwyn was ’n goedverouderde Raka Cabernet Franc uit die 2013 oesjaar met ’n sommerbessie-karakter. Die geur bevat reuke van aarbei, framboos, kersie en moerbei en die smaak is sag en salig op die tong met ondertone van koffie.

*Die laaste rooiwyn vir die aand was ’n 2014 Montpellier de Tulbach Cabernet Sauvignon uit die Tulbach-omgewing. Die robynrooi Cabernet Sauvignon, word volgens die wynmaker vir 12 maande in houtvate verouder en word gekomplementeer met geure van bloekom.

*Die Vat Tappers-wynklub van Vanderbijlpark is in 1985 gestig en vier vanjaar sy 36ste bestaansjaar. Volgens Derek Stevens, sameroeper, is die klub vir wyngeesdriftiges wat meer oor wyn wil leer. Die klub het ’n ledetal van ongeveer 34 lede, kom ongeveer elke twee weke byeen. Elke lid kry ’n beurt om die aanbieder vir die aan te wees en die byeenkomste is baie opvoedkundig.

KYK HOM, HY BLINK NIE: Fritz Schlagbauer bestudeer die kleure van die witwyn in sy glas. Foto: Christiaan Cloete
RUIK HOM, HY STINK NIE: Johan du Toit ruik aan ‘n witwyn tydens Vat Tappers-wynklub se byeenkoms. Foto: Christiaan Cloete
SO WAAROM KAN ONS HOM DAN NIE SKINK NIE?: Wyn word uit ‘n onbekende bottel geskink. Lede van die Vat Tappers-wynklub moes raai watter wyn dit is. Foto: Christiaan Cloete
Die etikette van die sewe wyne is eers aan die einde van die aand deur die aanbieder Carl Coetzee onthul. Foto: Christiaan Cloete
Die Vat Tappers-wynklub bestaan al sedert 1985 en is vir mense wat meer oor wyn wil leer. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button