As Kayla kolf, reën dit grenshoue
Veels geluk en sterkte aan Kayla wat vir die Gauteng o.19 Gauteng Vroue Krieketspan gekies is.
VANDERBIJLPARK. – Kayla Abbott lewe vir krieket. Sy is op haar gelukkigste as sy die wilgerlat kan swaai en een na die ander bal na die grenshou kan dryf.
Die matrikulant van die Hoërskool Transvalia sien baie uit na Desember vir twee redes.
Op 1 Desember skryf sy haar laaste vraestel en twee weke later reis sy saam met die res van die Gauteng o.19 krieketspan na die Weskaap.
Hulle gaan van 15 – 21 Desember aan die o.19 Nasionale Krieketweek deelneem.
Krieketwedstryde was die afgelope twee jaar baie beperk as gevolg van die Covid-19 beperkings.
Verlede jaar kon hul glad nie wedstryde speel nie, maar hierdie jaar het haar kolf weer die grenshoue laat reën.
Kayla het uitstekende gevaar in die vriendskaplike wedstryde wat Hoërskool Transvalia in meegeding het.
In vyf wedstryde was sy net een keer uit. In die ander vier wedstryde het sy onderskeidelik 170, 67, 184 en 165 lopies nie uit nie aangeteken.

Alhoewel sy al in graad 4 begin krieket speel het, het die gogga haar eers werklik in graad 9 gebyt nadat sy die aksie van die Vroue Krieket Wêreldbeker gevolg het.
“Volgende jaar vind die o.19 Krieket Wêreldbeker plaas, maar ek sal 18 dae te oud wees om te kan deelneem,” sug sy.
Kayla het nog nie heeltemal besluit wat sy volgende jaar wil doen nie.
Sy het nog altyd baie van Australië gehou.
Haar oom-hulle bly daar en sy oorweeg dit sterk om haar krieketspiere by ‘n klub in die vreemde te gaan fleks.
Tot dan geniet sy dit om krieket vir die Delfos klub in Roodepoort te speel.
Sy het voorheen ook vir ‘n klub in Orange Farm kolf geswaai.
“Ek sal altyd dankbaar wees teenoor my afrigter in Orange Farm, Tebogo Ntsukunyane. Hy het destyds soveel tyd aan my afgestaan en my regtig baie gehelp,” vertel sy met ‘n glimlag.

As sy een ding sou kon verander, dan sal dit wees om klubkrieket vir dogters van kleinsaf in die Vaal area te vestig.
“In die groter stede word daar baie tyd spandeer om meisies se kriekettalent van jongsaf te ontwikkel.
“Toe ek op laerskool was, wou nie een laerskoolspan my saam met die seuns laat speel nie en daar was nie meisiespanne nie. Ek het toe maar vir Carel De Wet gaan speel,” onthou sy.
Vir dogters en ander meisies wat ook groot drome het om eendag provinsiaal of internasionaal krieket te speel, het Kayla die volgende raad.
“Hou moed. Glo in jouself. Werk hard en jy sal die vrugte pluk. Luister na raad om jou spel te verbeter.”
