Kleiner skoolinnames laat vrae oor Covid se invloed ontstaan
Verskeie fakore wat Covid insluit het 'n invloed op getalle.
Minder aansoeke by van die Vaaldriehoek se laerskole laat vrae ontstaan oor die COVID-19-pandemie se moontlike invloed op graad R- en graad 1-innames vir 2027.
Hoewel die pandemie volgens navorsing sommige ouers hul kinders se eerste skoolinskrywing laat uitstel het, is ’n verband met volgende jaar se kleiner innames nog nie bevestig nie. Terugvoer van plaaslike skole verskil ook, met Noordskool in Sasolburg wat ’n toename aanmeld.
Frans van Kradenburg, hoof van Laerskool Emfulenipark in Vanderbijlpark, sê die skool het ’n merkbare afname in aansoeke vir Afrikaanse én Engelse onderrig ervaar. Dit is veral onder voornemende graad R-leerders vir 2027 sigbaar, maar raak ook graad 1.
Van Kradenburg sê sekere skole is gewilder as ander. Hy meen egter die Gautengse onderwysdepartement behoort vanjaar alle voornemende graad 1-leerders betreklik maklik in die beskikbare plekke by skole te kan plaas.
Coenie Herbst, hoof van Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark, sê baie gesinne verhuis ook uit Gauteng na die Kaap.
Volgens Jonathan Wright van Noordskool het dié skool se inname van Afrikaanse én Engelse leerders daarenteen toegeneem. Volgens onbevestigde gerugte is daar ‘n Afrikaanse laerskool in Vanderbijlpark wat slegs 24 afrikaanssprekende leerlinge ontvang.
Die moontlike invloed van COVID-19 hou verband met die ouderdom van die kinders wat volgende jaar skool toe gaan. Kinders wat in 2027 sewe word, is in 2020 gebore, toe die pandemie en inperkings Suid-Afrika getref het. Jonger graad 1-leerders kan ook kinders insluit wat in die eerste helfte van 2021 gebore is.
Die gepubliseerde minimum toelatingsouderdom vir graad 1 is vyf, mits die kind teen 30 Junie van die toelatingsjaar ses word. Dat hierdie kinders gedurende die pandemie gebore is, bewys egter nie dat COVID-19 kleiner innames veroorsaak het nie.
’n Ontleding vir die Departement van Basiese Onderwys het wel bevind dat eerste inskrywings onder jong kinders aan die begin van 2021 sowat 27 000, of 2,3%, laer as verwag was.
Dit het toetrede tot graad R én graad 1 gedek. Die bevinding was in ooreenstemming met ouers wat hul kinders se eerste skoolinskrywing tydens die pandemie uitgestel het. Dié navorsing handel egter oor skooltoetrede destyds en verklaar nie op sigself die verwagte innames vir 2027 nie.
Nasionale geboortesyfers toon intussen ’n afname, hoewel die groter dalings eers ná 2021 voorgekom het.
Volgens Statistieke Suid-Afrika se verslag oor aangetekende lewende geboortes was daar sowat 1,02 miljoen geboortes in 2020, teenoor ongeveer 799 000 in 2024. Dié syfers word volgens geboortejaar aangeteken en kan verander namate laat registrasies bygevoeg word.
Die aangetekende geboortes vir 2020 was hoër as dié vir 2019, terwyl die getal in 2021 slegs effens afgeneem het. Die syfers ondersteun dus nie sonder meer ’n verklaring dat ’n skerp daling in geboortes tydens die eerste pandemiejaar nou kleiner klasse veroorsaak nie.
Die plaaslike terugvoer dui ook nie noodwendig op ’n landwye afname nie. Volgens die departement se School Realities-verslae het graad 1-inskrywings by gewone openbare en onafhanklike skole van 1 054 790 in 2024 tot 1 090 015 in 2025 toegeneem.
Stats SA raam verder dat die gemiddelde getal kinders per vrou van 2,78 in 2008 tot 2,12 in 2026 gedaal het. Die tendens na kleiner gesinne het dus reeds voor die pandemie begin.