Dis wat jou stem help doen het!
VANDERBIJLPARK. - “Eerstens wil ek elke inwoner wat gestem het bedank. Die ANC moes met meer as 50% wen om beheer oor ELM te behou en die kiesers het gesorg dat dit nie gebeur het nie.
” Dit was raadslid Gerda Senekal, leier van die VF Plus in Emfuleni, se eerste woorde in ‘n onderhoud met Vaalweekblad.
Op die vraag oor hoe sy na afloop van die verkiesing voel, is haar antwoord:
“Ek is verlig en dankbaar vir al die ondersteuning wat die VF Plus gekry het. Dit is die eerste keer in 20 jaar dat die ANC nie meer in beheer is in Emfuleni nie. Daar is dus baie onsekerheid, maar ‘n opwindende tydperk lê voor.
“Die gemeenskap het gepraat en ek glo daar is nou nuwe hoop vir Emfuleni,” sê rdl. Senekal. Sy het verder verduidelik dat daar 364 000 wettig geregistreerde kiesers was, waarvan net 51,4% (wat baie laag is) die kans benut het om te stem. Dus het sowat 164 000 inwoners gestem.
Rdl. Senekal het ook beklemtoon dat daar verby die aantal persentasies wat elke party gekry het gekyk moet word, maar na die aantal sitplekke in die Raad wat hul verower het.
Die ANC het net 38 sitplekke in die Raad verower (wat te min is om hulle in beheer te hou), die DA 24, die EFF 14, die VF Plus 6, die PAC 2, New Horizon Movement een, ACDP een en nog drie kleiner partye wat elk een sitplek verower het.
“Dus het niemand die oorgrote meerderheid behaal nie. In politieke term word dit ‘n hangende raad genoem. Dit beteken daar sal koalisies gevorm moet word, of ‘n veelparty-regering om beheer oor die munisipaltiteit te verkry,” verduidelik rdl. Senekal.

Wat beteken dit presies vir inwoners?
Dit beteken daar sal ‘n ander regering by ELM intree wat dinge anders sal hanteer en wat hoop gee dat onder meer dienslewering en ontwikkeling kan verbeter.
Aanstellings soos die munisipale bestuurder, die finansiële bestuurder en al die ander departementshoofde sal dus nie net politieke kader aanstellings wees nie, maar volgens meriete bepaal word. “Sodra jy dus die boonste struktuur van die Raad verander, sal die onderste deel ook in plek val,” sê rdl. Senekal.
Een van die belangrike punte wat mense nie verstaan nie, is dat Suid-Afrika ‘n proporsionele stemstelsel het, wat beteken elke stem tel!
“Elke party, hoe klein of groot, benodig dieselfde aantal stemme om ‘n sitplek binne ‘n Raad te kry. ‘n Proporsionele stem is die stem wat jy vir ‘n politieke party in geheel gegee het.
Daar is 90 raadslidposte (waarvan 45 wykslede is en 45 proporsionele lede).
Die proporsionele raadslid se werk is administratief en om die party te verteenwoordig tydens raadsvergaderings en komitees.
‘n Wykraadslid is die persoon wat die meeste aantal stemme in ‘n wyk gekry het, en word die raadslid van die wyk. Dit is ook die persoon wat klagtes binne sy/haar wyk hanteer.
Is ‘n koalisie in die vooruitsig?
“Tans is elke party besig om sy koalisie-beleid te hersien. Daar sal tussen die partye onderhandel word hoe om dit moontlik te bewerkstellig.
“Daar is ook ‘n ander opsie van ‘n veelpartydige regering, wat beteken dat elke party ‘n posisie in die bestuur kry met dieselfde verantwoordelikheid en mag. As dit gebeur sal daar steeds geslaag word om die ANC uit besluitnemingsposisies binne die Raad te hou,” verduidelik rdl. Senekal.
- Besluite deur die betrokke partye sal waarskynlik binnekort bekend gemaak word.
