Vaalpark Primêr se doppies vir liefdadigheid
By Vaalpark Primêr streef hul altyd na omgewingsbewaring en hoe hul ander kan help ... met goeie gevolge.
VAALPARK. – By Vaalpark Primêr leer ieder en elk van kleins af om ekovriendelik te dink en omgee harte vir die omgewing, mense en diere te hê.
Hierdie jaar was vol uitdagings, maar ten spyte daarvan het Vaalpark Primêr se ouers en leerders saamgespan om ander te help.
Een van hul projekte was die insameling van broodsakkie-knippies en plastiese koeldrankbotteldoppies.
In plaas daarvan om hierdie kleinighede weg te gooi, het gesinne die knippies en doppies in twee aparte, herwonne, skoon bottels versamel.

Die doel was om soveel as moontlik bymekaar te maak en dit dan aan die “Sweetheart Foundation te skenk.
Charmaine Kriek, skakelbeampte van die skool, sê die Sweetheart Foundation kan vir elke 100 kg broodsakkie-knippe en 450 kg doppies, ‘n rolstoel aan ‘n minderbevoorregte persoon skenk.
Die nie-winsgewende organisasie samel al vanaf 2009 doppies en knippies in.
Volgens hul webtuiste, www. https://sweetheartsfoundation.org/ het hul al 294 rolstoele oorhandig nadat 43.3 ton botteldoppies en 5.9 ton broodknippies ingesamel is.
Om dinge interessant te hou, het die skool ‘n kompetisie tussen die klasse gehou.
Die klas wie se ingesamelde doppies en knippies die meeste geweeg het, het ‘n pizza van Pizza Boss in Vaalpark ontvang.
Almal het met mening ingesamel, maar uiteindelik het Graad 3 B die ander ver agter gelaat.
Die klas het 144 kg plastiek koeldrankdoppies en 0,3 kg broodsakkie-knippies ingesamel.
Charmaine sê die skool kon teen einde Oktober, ongeveer 895,25 kg doppies en 65 kg broodsakkie-knippies aan die Sweetheart Foundation gee.
Dit sal verseker dat byna drie nuwe rolstoele aan minderbevoorregtes geskenk sal word.
