News

Motorfietsongeluk: Min beterskap na 60 dae in staatshospitaal

Roelof Riese was die betrokke dag vir ‘n vinnige kuier by sy broer om sy nuutgeverfde motorfiets vir hom te gaan wys, toe hy op pad huis toe in ‘n botsing teen ‘n motorvoertuig betrokke was.

VEREENIGING. – “My broer het die afgelope jaar R84 000 in persoonlike belasting aan die staat betaal, maar na sy ongeluk lê hy nou al twee maande in ‘n staatshospitaal waar hy die absolute minimum hulp kry. Is goeie mediese sorg dan nie ‘n mensereg in Suid-Afrika nie?”

Só vra me. Nonna-Mari Riese, wie se broer. Roelof (36), op 11 September in ‘n motorfietsongeluk op die Glen Donaldpad beseer is.

Roelof was die betrokke dag vir ‘n vinnige kuier by sy broer om sy nuutgeverfde motorfiets vir hom te gaan wys, toe hy op pad huis toe in ‘n botsing teen ‘n motorvoertuig betrokke was.

Roelof, wat inwendige bloeding en ‘n gebreekte pelvis opgedoen het, het uitstekende behandeling van ER24 se nooddienspersoneel op die toneel ontvang en is van daar na die Vereeniging/Kopanong-hospitaal vervoer. Hy is later die middag na die Sebokeng-hospitaal oorgeplaas, waar hy eers die aand om 12 uur ‘n noodoperasie ondergaan het.

‘n Dokter het die volgende dag aan sy vrou en ma verduidelik dat sy herstel lank gaan neem en dat die wond nie toegemaak is nie om te verseker dat die bloeding eers stop. Sedertdien het Roelof se lewe in ‘n eindelose, pynlike nagmerrie ontaard. Hy het binne enkele dae sepsis (bloedvergiftiging) opgedoen en sy blaas het begin lek. Volgens Nonna-Mari word sy volwasse doeke nie gereeld geruil nie en hy lê menige dag op urien-deurweekte beddegoed.

“Ons is aanvanklik in vlak 2 van die inperking nie toegelaat om hom te besoek nie maar tans, onder vlak 1, mag hy 15 minute per dag besoek word. Sy vrou en my ma sorg darem dat hy elke dag ‘n goeie bord kos kry,” sê sy.

Roelof, ‘n diabeet, was reeds ‘n geruime tyd in die hospitaal voordat hy sy diabetiese medikasie begin ontvang het. Hy sukkel ook om sy voorgeskrewe medikasie en salf by die hospitaalapteek te kry omdat die personeel dit glo nie gaan haal nie en hy nie self daarheen kan loop nie.

“Roelof was tot met die ongeluk ‘n toegewyde en hardwerkende dieselwerktuigkundige by Brikor, wat genadiglik tot dusver steeds sy salaris betaal het. Hy het ‘n goeie mediese fonds gehad, maar toe dit gedurende Vlak 5 van die inperking finansieel swaar begin gaan het, het hy dit laat vaar. Ons gesin kan nie langer toekyk hoe hy in ‘n staatshospitaal agteruit gaan nie en wil hom baie graag na ‘n privaathospitaal laat oorplaas, waar hy goeie sorg sal kan kry,” sê Nonna-Mari. Die gesin het om dié rede ‘n insamelingsveldtog, Raising Hope for Roelof, begin.

Roelof, ‘n oudleerling van Laerskool Suikerbos en HTS Vereeniging, se pa is tans ook uiters siek. Hy en sy pa het mekaar nog net een keer gedurende Vlak 1 van die inperking gesien en die gesin vrees dat daar dalk nooit weer ‘n geleentheid gaan wees nie.

“Dit is ‘n baie moeilike en swaar tyd vir ons. Ons sal enige geldelike ondersteuning opreg waardeer,” sê Nonna-Mari.

Die gesin probeer nou om ‘n gholfdag of ander insamelingsgeleenthede te organiseer. Mense wat voorstelle het of met so ‘n spesiale projek wil help, kan Vaalweekblad kontak by 083 246 0523.

Enigiemand wat bereid is om ‘n geldelike bydrae te maak, kan dit direk inbetaal in die rekening van M. Riese by Capitec Bank, Rekeningnommer: 1673745774, Takkode: 470010, Verwysing: Raising Hope for Roelof.

Roelof Riese (36) in sy hositaalbed in die Sebokeng-hospitaal, waar hy nou reeds meer as 60 dae lê.
Die toneel waar Roelof Riese op 11 September op die Glen Donald-pad in ‘n botsing tussen sy motorfiets en ‘n motor beseer is.

Roelof voor die botsing.

******************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button