Local newsNationalNewsNews

Organies, kraakvars en vreugdevol

Die groentetuinprojek waar alles organies met hope vreugde en geesdrif gekweek word.

VANDERBIJLPARK. – Net buite Vanderbijlpark, rigting Boipatong, sal jy die Rita Benecke Landbouprojek vind.

Op ‘n lappie vrugbare grond het die Golden Triangle Chamber of Commerce, die Rotary Klub van Vanderbijlpark en Thusong Projekte hande gevat en ‘n gemeenskapstuin tot stand gebring.

Julane tussen die kraakvars groenboontjies. Foto: Gerda Bruinette

Hier word daar groente en kruie aangeplant en selfs saailinge gekweek in twee kweekhuise.

Die projek het ‘n tweeledige doel, ten eerste om kos aan die gemeenskap te voorsien, maar ook om mense op te lei in verskeie aspekte van landbouer wees.

Dit sluit alles in van hoe om ‘n besigheid te begin tot by die aanplant van groente op ‘n ekologies-vriendelike manier.

Projekbestuurder Alice De Jager sê: “Op die plaas word alles organies gekweek. Geen gif word toegelaat nie. Pesbeheer word op natuurlike wyse gedoen, deur onder andere kakiebos te kweek en dan die droë kakiebos in water te laat lê.

“Dit word dan oor die groente gespuit. Uitstekende pesbeheer.”

Sy lag lekker. “Vertel die mense van die kakiebos ander dink hulle ons is gek om dit hier te laat groei!”

Alice inspekteer die kersietamaties. Dié kweekhuis se dak moet nog reggemaak word. Foto: Gerda Bruinette

Die projek is in Januarie 2021 van stapel gestuur nadat die sakekamer en die Rotary Klub van Vanderbijlpark verlede jaar tydens die grendelstaat besef het hoe hoog die nood vir kos in die area is.

“Dit was nie maklik om die projek aan die gang te kry nie. Hier lê baie sweet en trane,” beduie Alice.

Deur te leer uit hul eie foute en met ‘n ongelooflike deursettingsvermoë het almal betrokke aangehou met hul harde werk totdat dié projek die spreekwoordelike vrug, of is dit nou groente, begin dra het.

Die dag voor Vaalweekblad se besoek is 25 kg wortels uit die vrugbare grond geoes en aan Thusong Projekte geskenk.

By Thusong word daar daagliks 80 liter sop gekook wat onder verskeie behoeftige instansies uitgedeel word.

Daar is ook die afgelope ruk reuse koolkoppe geoes, die boontjies is kraakvars, die klein tamaties begin kleur wys en die ekstra-groot uie is so pas geoes.

Daar is al baie ure se harde werk die afgelope 11 in die tuin ingesit. Foto: Gerda Bruinette

“Onder die skadunette gaan ons nou spinasie plant. Baie spinasie. Dit gaan ons help om hierdie projek selfonderhoudend te maak,” gesels Alice en beduie dan met haar duim en wysvinger baie naby aanmekaar, “die projek is só naby daaraan om selfonderhoudend te wees.”

Jackie van Waveren, vorige president van die Rotary Klub van Vanderbijlpark, deel Alice se opgewondenheid oor die projek.

“Weet jy, dié projek het ‘n positiewe invloed op ander. Ek weet van 11 ander gemeenskapstuine wat al in die Vaaldriehoek ontstaan het omdat hierdie een mense geïnspireer het.”

“Nie net hier nie,” voeg Alice trots by, “’n oud-Vaaldriehoeker, Mandie Potgieter is besig om een in Ballito te vestig.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button