Nataniël se Sondagkonsert – lafenis vir die gemoed
Ons is bevoorreg om die Etienne Rousseau Teater te hê waar ons vertonings van hoogstaande gehalte op gereelde basis kan bywoon.
SASOLBURG. – Op die kop 3 uur op Sondagmiddag, 14 November het die hoofligte van die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg verdof.
Op die verhoog was die gordyne oop. Kerse in glasomhulsels het vrolik geflikker. Die verhoog was verder in blou lig gehul.
Twee figure het op die verhoog verskyn. Die een het agter die klavier sitplek ingeneem, die ander agter die mikrofoon.

‘n Sondagkonsert met Nataniël onder begeleiding van Charl du Plessis het begin.
Vir die volgende amperse uur en ‘n half was die twee meesterkunstenaars lafenis vir die gemoed.
Nataniël se raaksê stories het gesorg vir baie lag, terwyl sy uitsonderlike sangstem met elke lied ontroer het.
Natuurlik was Nataniël se kostuums weer uitsonderlik mooi en soos die Engelse sal sê: “to die for.”
Uit die kommentaar op sosiale media was dit duidelik dat die gehoor die twee vertonings – daar was een om 11:00 ook – baie geniet het.
Charene Lee van der Westhuizen het gesê: “Ons het elke oomblik geniet! Dankie, Nataniël, dit was ongelooflik entertaining”.
“Heerlik gewees en lekker gelag, sang is puik. Dankie,” het Adele Celliers laat weet, terwyl Elize du Toit dit dalk die beste verwoord het met: “Vertoning was fantasties. Dit was medisyne vir my gewees. Voel n ander mens.”
![]()
![]()
