Karen oorwin groot terugslae en skryf boek wat internasionaal aandag trek
Die publiek se ondersteuning kan indirek die lewens van baie kinders ten goede verander.
VANDERBIJLPARK. – Elke mens se lewensuitdagings verskil. Sommige se lewenspad is hoofsaaklik met rose besaai. Dan is daar ook dié wat soveel struikelblokke op hul lewenspad moet oorkom dat ‘n mens net met simpatie en ongeloof na hul verhale kan luister.
Karen Kritzinger (47) van Vanderbijlpark is een so ‘n vegter wat deur die diepste donkerwater moes spartel om emosioneel heel te word en uiteindelik as ‘n oorwinnaar uit die stryd kon tree.
Vandag is Karen ‘n gerekende humanitêre werker, lewensafrigter en skrywer wie se boek oor die liefde, hoop en vryheid in die buiteland raakgesien is. Sy het nou ‘n geleentheid om die boek tydens ‘n groot internasionale boekuitstalling in Londen, sowel as op internasionale radio en TV te laat bemark. Karen is tans besig met ‘n fondsinsameling om haar geldelike verpligtinge vir dié uitstalling en ander uitgawes te kan bekostig.
Sy vertel self haar verhaal:
“Ek is ‘n moeder, ‘n oorwinnaar van depressie en vrees; ‘n groot liefhebber van die lewe en ‘n positiewe leefwyse – alles deur die genade van God.
“Ek het my seuntjie in 2005 verloor toe hy by sy dagsorgsentrum in Vanderbijlpark gesterf het. Ek het in ‘n ernstige depressie verval en op vernietigende hanteringsmeganismes staatgemaak om dit te verwerk. Ek het ook baie slegte keuses gemaak waarvoor ek ‘n duur prys moes betaal.
“Na byna 20 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ek in 2012 bedank om liefdadigheidswerk te doen en die Bybel te bestudeer. God het beheer oor my lewe geneem en my en my wonderlike dogter, nou 24, uit die put van die hel gered. Ek het tien jaar lank net die Bybel gelees en bestudeer en alles wat ek gehad het, verkoop om onder die armes te kon dien.
“Ek het ‘n God-geïnspireerde boek geskryf, wat gebaseer is op profetiese openbarings van die Bybel. Ek glo dat dit siele sal aanraak en lewens sal verander,” sê Karen. Europe Books het haar werk so inspirerend gevind dat hulle voorgestel het om dit in 500 boekwinkels regoor Europa te plaas en dit ook as ‘n e-boek te bemark. ‘n Kontraktuele voorwaarde is dat Karen ‘n medeproduksierol as outeur moet vervul en 200 eenhede van haar boek teen 14,90 Britse Pond (R302,55) per boek moet koop.
Sy benodig dus sowat R60 500 om haar droom te laat waar word.
Karen is voorts na ‘n groot Londense uitstalling genooi om haar boek as outeur te verteenwoordig, en om ‘n redakteur-outeur onderhoud vir die Conoscere TV-kanaal in Rome by te woon. Dié onderhoud sal vir verdere bemarking op televisie, radio en ander visuele en oudiomediaplatforms in Italië, Spanje, Portugal, Duitsland en die Verenigde Koninkryk uitgesaai word. Karen vertrou dat God haar ook met die fondsinsameling vir dié uitgawes sal onderskraag.
Een van die belangrikste kenmerke van haar werk is dat sy kwessies soos lyfstraf en kindermishandeling wat in die naam van godsdiens uitgevoer word, belig.
Met die publiek se geldelike hulp gaan Karen die geleentheid kry om dié humanitêre saak op verskeie groot internasionale mediaplatforms onder kykers se aandag te bring. Die publiek se ondersteuning kan dus indirek die lewens van baie kinders ten goede verander.
“Die boek bied ook ‘n geleentheid om elke leser in ‘n nuwe seisoen met God te betrek,” sê Karen.
Mense wat dié uitsonderlike vrou en haar waardevolle projek graag wil ondersteun, kan ‘n inbetaling doen in dié bankrekening: Karen Kritzinger, ABSA BANK VDBP, REK. NO. 4101744660 (TJEK REKENING).

![]()
*******************************************************************************
