Local newsNewsNews

‘n Nuwe baadjie vir Frikkie Meyer

Laerskool Frikkie Meyer kry, uiteindelik, 'n nuwe baadjie. Daar is 'n grootskaalse opknappingsprojek aan die gang.

VANDERBIJLPARK. – Daar is groot bedrywigheid by die Laerskool Frikkie Meyer in CW1.

Die laerskool wat reeds in 1953 geopen is as Euclidstraatskool is vandag amptelik ‘n erfenisgebou.

Met die jare saam het die geboue hul ouderdom begin toon. Dakplate het met elke sterk wind afgewaai, geute was stukkend, mure het begin kraak en verf het afgedop.

Die skool se huidige hoof, Gert van der Westhuizen, onthou in hoe ‘n mate die skool vervalle voorgekom het toe hy in September 2015 daar aangestel is.

Dit was vir hom erg om die agteruitgang waar te neem, aangesien dit die skool is waar hy desjare as student geproef het.

Hy het nie die verval bloot net aanvaar nie, maar dadelik ingespring om self reg te maak wat reggemaak kon word.

Die ou grade-klasse wat moontlik gesloop sal moet word. Foto: Gerda Bruinette

“Ek was al ‘n paar maal op die skool se dak om die sinkplate weer vas te kap,” beduie hy.

Die skool het ook op ‘n stadium deurgeloop onder inbrake.

“Daar is kort-kort deur ‘n klaskamer se dak ingebreek en die onderwysers se skryfbehoeftes en skoon skrifte is gesteel. Alles goed wat verkoop kan word om vinnig geld in die hande te kry,” sê hy.

“Ons sit in ‘n rooi gebied, hier is baie dwelmverslaafdes in die omgewing.”

Die skool het toe self alarms en kameras laat installeer, maar die hoof het ook ‘n volledige verslag saamgestel en dit aan die Departement van Infrastruktuurontwikkeling gestuur.

Teen 2018 het hy ‘n terreinontwikkelingsplan ontvang, maar die kontrakteur is eers in Februarie 2021 aangestel.

Uiteindelik is daar met die werk begin in Mei 2021. Die groot restourasie projek sluit alles van waterpype en riolering tot by nuwe vloere, beligting en plafonne in.

Die skool se erfenisgebou status maak dinge moeiliker aangesien daar nie sonder toestemming van die Erfenis Raad veranderinge aangebring kan word nie.

Tog is daar sekere veiligheidsmaatreëls, soos brandmure tussen klaskamers, wat nou ingesit moet word wat nie met die oorspronklike aanbou van die skool gegeld het nie.

Tans is groot gedeeltes van die skool onder konstruksie en daarom word daar in tydelike klaskamers op die sportveld skoolgehou.

Die onderwysers span nou die skoolsaal in om al hul goed te stoor en hul merkwerk te doen.

Alhoewel die grootste gedeelte van die skool opgeknap en beveilig kan word, wil dit op die stadium lyk asof die ou graad 1 en 2 klaskamers gesloop sal moet word.

Die skool kry onder andere nuwe vloere en plafonne. Die dak word ook herstel. Foto: Gerda Bruinette

Die kontrakteur het gevind dat daar fout is met die fondasie van die klaskamers en dit veroorsaak die krake in die mure en vloere.

“Ons wag nog om te hoor of hulle die betrokke klaskamers gaan sloop of probeer herstel. Maar, herstelwerk sal baie meer as die sloping en oorbou kos,” het Gert vertel op ‘n toer deur die skoolgronde.

Die hoof het bygevoeg dat hulle waar moontlik gaan probeer om meer omgewingsvriendelik te wees en veral elektrisiteit te bespaar.

So gaan die saal se ligte byvoorbeeld met elektrisiteitsbesparende ligte vervang word. Die skool spog reeds met ‘n Clearview heining wat sorg vir groter sekuriteit.

Die veld langs die skool wat in die laaste jare tot ‘n onooglike rommelhoop gereduseer was waar druggies oop en bloot hulself ingespuit het, word nou deur die skool gehuur.

Die veld is omhein en skoongemaak. Daar is parkering geskep en ‘n veilige plek waar die leerlinge vir hul ouers en busse kan wag.

Tans word die een gedeelte van die veld deur die konstruksiemaatskappy gebruik, maar sodra hul klaar is, beplan die skool om ‘n nuwe atletiekveld in te rig.

Lees ook: https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/113254/my-verlede-is-gr…kkie-meyer-groen/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button