Vaalpark se resep vir sukses
Aktiewe gemeenskapslede + reaktiewe patrolleerders + goeie verhouding met die SAPD = misdaadvrye dorp!
VAALPARK. – Maandag, 15 November 2021 was ‘n afsluiting, maar ook ‘n nuwe begin vir Public Eye.
Hul uitvoerende komitee het hul laaste amptelike vergadering gehou vir die jaar, maar hulle het ook Elmarie Botha as nuwe skakelbeampte verwelkom.
Die span het onder leiding van Willem Carstens gefokus op die pad vorentoe en deur ‘n optimiseringsproses gewerk om prioriteite vir die hede en nabye toekoms vas te maak.
Oor een ding was almal eens, hulle is daar om misdaad in Vaalpark te beveg.
Lees ook https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/111198/vaalpark-staan-saam-werk-saam/
Arrie Coetzee van Public Eye het gesê die harde werk van die patrolleerders en vrywilligers saam met die goeie verstandhouding wat hul met die SAPD in die area het, lewer goeie resultate.
“Die afgelope drie weke was daar geen voorvalle van misdaad in die dorp nie,” het Arrie trots laat hoor.
“Sukses kweek sukses,” het Willem bygevoeg. “Ons het nou strategie in plek en het voorsiening gemaak vir ‘n verskeie scenarios.
“Vir elke probleem wat mag opduik het ons reeds meer as een oplossing in plek.”

Een van die grootste projekte wat nou Public Eye se aandag verg is die kamera projek.
Hulle hoop dat die eerste kameratoring eersdaags opgesit sal word en in werking sal tree.
Hulle doen ‘n beroep op Vaalpark inwoners en besighede om aan te hou om hierdie projek te ondersteun wat uiteindelik sal lei tot kameratorings by drie van Vaalpark se ingange en 24/7 monitering deur Belrex en Public Eye se eie kontrolekamer.
Dan werk hul ook daaraan om Public Eye se lidmaatskap uit te brei, spesifiek met betrekking tot die Pulic Eye VIP groep op Telegram en Zello.
Hier word baie belangrike inligting gedeel en hou lede mekaar op hoogte van enige verdagte bedrywighede.
Die groep word ook gemonitor deur een van die polisie se lede wat spoedige reaksie verseker.
Uitvoerende lid, Kobus Pretorius het gesê Public Eye ondersteun die gemeenskap en is daar om ondersteuning aan die SAPD te bied waar moontlik.
“Ons is hier van die gemeenskap vir die gemeenskap.”
“Enige krisisse of insidente wat op die Public Eye VIP groep gekommunikeer word of na ons kontrolekamer deurgeskakel word, kan dadelik na die regte kanale gestuur word.
“Ons weet wie om wanneer te skakel en kan vinnig hulp verleen,” het Kobus bygevoeg.

