Lees hier wat personeel van NG Welsyn Vereeniging deurgaan
Min mense weet wat 'n dag of ‘n week in die kantoor van NG Welsyn Vereeniging behels. Vaalweekblad het met Andrea Combrink (administratiewe beampte) gesels en gevra hul moet hul doen en late met ons deel.
Dit is hoe sy dit beskryf:
Die foon lui, dis ‘n juffrou by die laerskool, ‘n nuwe aanmelding. Graad 2 seuntjie word mishandel in sy ouerhuis. Pappa drink te veel, slaan vir mamma, slaan die kinders ook. Blou hale oor sy kleine lyfie, hy het slegs probeer om sy ma te beskerm.
Daar is ‘n klop aan die deur, ‘n hand wys uit terwyl die ander hand sy maag streel, “Ek is honger Mevrou”. Met trane in my oë wys ek hom weg, want ons kaste is leeg, heeltemal leeg. Ek het niks om vir hom aan te bied nie. Ons wag op donasies, ons is so afhanklik van skenkings.

Die foon lui weer, dit is Wall of Hope, ‘n brawe mamma het haar baba in die muur gelos. Ons kort dringend ‘n plek van veiligheid. “Die kind is nie die regte kleur en kultuur, sy sal nie inpas in my huis”. “Ek soek ‘n seuntjie, nie ‘n dogterjie nie”. Plek van veiligheid en pleegouers is so ongelooflik skaars. Waarheen nou?
Nog ‘n klop aan die deur, ‘n pleegouer van ‘n tiener meisie wil nie meer na haar omsien nie, sy gee te veel probleme. Kinderhuis? Ander pleegouer? Die meisie skryf die jaar matriek, sy moet leer, nie rondgeskuif word nie. Hoe nou? “Tannie, niemand wil my hê nie!”
Nog ‘n aanmelding voor die week hom afsluit, ‘n tweeling, die mooiste twee blonde-kop, bruin-oog kindertjies. Daar word vermoed dat hulle seksueel misbruik word in ouma se huis. Ouma is reeds plek van veiligheid teen mishandeling deur ouers. Hulle benodig assesering, terapie, nuwe tuiste?

Verhale soos hierdie speel daagliks in die NG Welsyn-kantoor af. Soms is dit kinders in ons gemeenskap, wat blootgestel word aan mishandeling, dwelm- en alkoholmisbruik in huishoudings. Soms is dit die ongelooflike armoede wat sy tol eis, maar die NG Welsyn-werkers probeer telkens hul bes.
Hierdie nood in ons gemeenskap is ongelukkig baie groot. Die NG Welsyn word gesubsidieer deur die staat vir basiese doeleindes, maar is meestal afhanklik van donasies om hul werk te kan voortsit. Hulle is baie dankbaar vir donasies, maar dit is nie genoeg om die nood te dek nie.

Golfdag ten bate van NG Welsyn
“Daarom hou ons kantoor gereelde fondsinsamelings. Die publiek se ondersteuning hierin is ongelooflik belangrik,” verduidelik Andrea.
Een van hul opkomende fondsinsamelings is hul gholfdag – ‘Around the world in 18 holes’. Dit sal op 3 Februarie 2022 om 11: by die Riviera Gholfklub gehou word. ‘n Vierbal beloop slegs R2 000. As jy nie self kan speel nie sal borge vir ‘n gaatjie ook hoog op prys gestel word. Dit beloop R1 500, of koop ‘n vierbal en borg ‘n gaatjie teen slegs R3 000.
“Ons kan ook ‘n Artikel 18 A, tot u beskikking stel, indien u maatskappy ‘n gaatjie sou borg. Daar sal ook lekker pryse wees om te wen, asook ‘n veiling om ekstra fondse in te samel,” sê Andrea.
Die fondse wat hierdeur ingesamel word, sal aangewend word vir die volgende:
Voedselskema vir behoefdiges, terapie vir kinders, dwelm- en alkohol toetse, plasing en ondersteuning van kinders by nuwe pleegouers en kinderhuise, ouerleidingsprogramme, vakansieprogramme ens.
Indien u ‘n bydrae wil lewer, of wil betrokke raak by hul gholfdag, kontak gerus vir Andrea Combrink by 016 421 4044 of vereen.admin@ngwelfare.co.za.
