Local newsNewsNews

‘n Werkende wasmasjien is ‘n wonderlike ding

Wie moes ook al wasgoed in 'n bad skoon trap? Die trap is niks, dis die uitdroog ...

Wasgoed was. Nou se dae is ons van die gelukkiges.

Die slag as daar krag en water is dan bondel ons die klere bo in die wasmasjien in saam met die nodige seep, en voila.

Die masjien tap in en spoel uit en vat die klere nog op ‘n spin ook.

Ek is dankbaar vir ons wasmasjien. Laat my dink aan die dae (en hier is ons nou weer in die vorige eeu doenig) van diensjaar vir Christus.

Ons Wes-Transvaalspan (voor die Noordwes gebore is) het almal saam in ‘n huis in Potchefstroom gebly.

Die huis het nie ‘n wasmasjien gehad nie. Spandrag was denims en T-hemde.

Op wasdae het ons denims in die bad skoon getrap en dan het een van die spanlede so ‘n klein ronde gedoente gehad waarin jy darem so ‘n paar T-hemde op ‘n slag kon skoon draai.

Ons was maar altyd gedruk teen tyd, want die hele wye ou Wes-Transvaal was ons gebied, so ons was of besig om in te pak of besig om uit te pak vir ons volgende werksessie.

Die een dag begin dit reën en daar sit ons met nat wasgoed. Agt mense se nat wasgoed.

Natuurlik het ons nie ‘n tuimeldroër gehad nie. Maar ons het geweet hoe om planne te maak.

Dit was nie lank nie, toe het ons draad gespan van die kombuis tot in die sitkamer, gang af en weer terug.

Groot pret om so van die een vertrek na die ander te loop en koes om nie jou koffiebeker teen ‘n nat denim om te loop nie.

Prettig ja, tot ons spanleier inloop met ons dominee op sy hakke.

Baie jare gelede. Ek, Surita en Marlee was die diensjaarspan se wasgoed. – 1994

Oom Nico was toe al jare studente predikant en als gewoond, maar ons spanleier het nie ons kreatiwiteit waardeer nie.

Die volgende jaar beland ek vir diensjaaropleiding in Tulbach – daar in die Wes-Kaap.

Indien jy nie weet nie, as die Bolanders begin sing van dis parstyd in die Boland, dan ruik daai area mos die ene wyn en die allerlekkerste geelperskes is te koop.

Maar, dan begin die wind ook waai. Ek onthou goed hoe ons met ons oggendkoffie en wakker-word brood van die kombuis tot by die saal moes loop vir vergadering.

Jy moes die bord met die brood bo-op die beker met koffie vasdruk om te keer dat al die koffie nie uitwaai nie!

Hoe dit ook al sy. In daardie wind en weer moes ons wasgoed was.

Ons het dit gesels-gesels skoongetrap, met die hand uitgedraai en dan op die lang lyne gaan hang. Gedink ons is heel skoon en netjies.

Dit was nou tot ek na daardie drie maande weer hierdie kant van die Vaalrivier uitslaan en Ma my klere was.

“Nee, jinne Gerdatjie, in watter stofstorm het jy gespeel? Kyk net al die sand in die wasmasjien!” het sy gesê en geen woord geglo van weeklikse wasgoed met die handgewassery nie.

Vaaldriehoekers sal ook weet hier rond los jy nie wasgoed op die draad as dit reën nie.

Jy hol en jy gaan haal af, anders gaan jy alles weer moet was.

Hier verskyn swart kolletjies op klere en op swembadwater as dit reën.

Vuil lug, maar dis iets waaroor ons nie praat nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button